ATKV en Global Changemakers vat vlam
Tydens die onlangse ATKV x Global Changemakers-wêreldjeugberaad wat by ATKV-Goudini Spa plaasgevind het, het 50 verskilmakers – 20 Suid-Afrikaners en 30 van regoor die wêreld – tussen die ouderdomme van 21 en 35, oor drie volle dae hul unieke en buitengewone vaardighede ten toon gestel.
Tydens die internasionale beraad het groot en kleurvolle plakkate en opslaanpanele, waarop die leuse “Vat vlam” of “Ignite” gestaan het, die Slanghoek-saal versier.
“‘Vat vlam’ of ‘Ignite’ is die sambreel vir die jong verskilmakers in Suid-Afrika,” sê Magon Mouton, ATKV-bestuurder: jong volwassene-ontwikkeling en innovasie.
“Ons het verskillende vennote saam met Global Changemakers. Ons span ook met die Jongerenprojeknetwerk saam vir die uitruiling van studente van en na die Europese Lae Lande.
“Dit bevorder die jongmense se bekendheid met die onderskeie kulture, tradisies, lewensgewoontes en tale. Hierdie jaar het ’n groep ’n akademiese en kulturele toer deur Suid-Afrika gehad. Volgende jaar stuur ons studente van ons land soontoe om die uitruiling tussen Afrikaans, Duits en Frans te hoor en die verhouding tussen kulture en tale te smee. Jong verskilmakers is besig om selfvertroue te bou en vlam te vat vir die toekoms,” sê Magon.
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, voeg die projek baie waarde vir hierdie organisasie en vir die jongmense wat deelneem toe.
“Die blootstelling van jong verskilmakers aan konkurrente van regoor die wêreld wat dieselfde ingesteldheid en energie het, is van onskatbare waarde. Die ontwikkeling van leierskapsvaardighede en insig geskied op ’n organiese manier gedurende hierdie sessies.
“Voorts is die netwerkgeleenthede en uitruil van oplossings verrykend. Een van die grootste uitdagings vir mense wat verandering dryf, is uitbranding. Hierdie sessies is ook betekenisvol om vaardighede te kweek en ’n internasionale gemeenskap van ondersteuning te skep om hierdie risiko teen te werk. Die ATKV werk vir baie dekades al op die gebied van leierskap op skoolvlak en die aansluiting van Global Changemakers bied aan ons jong werkende mark ’n natuurlike progressie in die ontwikkeling van hierdie vaardigheid.
“Die hoogtepunt bly altyd die jongmense. Hulle energie, passie en gedeelde waardes skep hoop vir ’n toekomstige wêreld waar oplossings gevind word vir die ontwikkelingsdoelwitte. Hier by ATKV-Goudini Spa was almal se bydrae onverbeterlik. Die gasvryheid en warmte van Suid-Afrika is deur almal aangeprys. Die brûe wat gebou word deur hierdie inisiatiewe getuig van die kwaliteit van ons jong leiers en ons sien uit na die volgehoue samewerking met Global Changemakers,” sê Brits.
Wat sê respondente?
Volgens Rai Hasen Masoud (21) van Pakistan was die beste gedeelte van beraad sy hernieude vertroue in mensdom as jy mense ontmoet wat dieselfde goed aanpak.
“Dit is my eerste keer in Suid-Afrika en dit gee my ’n boost om terug te gaan en nuwe passie vir wat jy doen, want soms kan dit taai wees daar buite. Mens kry altyd ’n backlash, maar hierdie is soos om vertroue te kry in dit wat goed is en om ’n verandering te bring aan dit wat minder goed is. My gemeenskapswerk met die Kaavish Foundation in Pakistan sentreer rondom infrastruktuurontwikkeling vir rekreasiedoeleindes in klein gemeenskappe. Die meeste sessies was wel oor ontwikkeling. Elke gemeenskap in ’n spesifieke omgewing is anders en die ontwikkeling gaan anders gebeur. Maar die sleutel is om ’n diverse perspektief na die tafel te bring – divers betreffende lande, kulture en perspektiewe.”
Hasen het na afloop van die beraad terug na Washington gevlieg om die volgende Maandag reeds by sy universiteitsklasse aan te sluit.
Alexia Kaplam van Kaapstad sê die beraad was ’n ongelooflike ondervinding. Sy werk tans by die Verenigde Nasies-klimaatsekretariaat in Böhn, Duitsland. Sy is ’n gekwalifiseerde advokaat wat eers by by Bohmans gewerk het en spesialiseer in sosiale-impakkwessies, waarvan klimaatsverandering onomwonde groot is.
“Klimaatsverandering is een van die grootste menseregtekwessies van ons tyd. Behuising, water, vloede en veldbrande beïnvloed lewens en voedselsekerheid.
“Ek het aanklank gevind by werksessies soos dié oor persoonlike handelsmerk- en netwerkontwikkeling – alles rondom hoe ek my storie vertel, hoe ek dit samehangend en interessant kan vertel sodat ek die meeste impak maak en die meeste toevoeg. Wat ek oorsee geleer is, is dat ons oorspronklikheid Suid-Afrikaners se sterk punt is.
“Ek wil ook graag vrywilligerswerk in die veld van klimaatsverandering doen en het baie kontakte hier ontmoet,” sê Kaplam.
Volgens die Frans-Algeriese dokumentêre filmmaker, Sélim Benzeghiasê, het hy baie geleer by sy mededeelnemers. “Almal is van verskillende agtergronde. Ek kan soms so gemaklik raak in my kreatiewe agtergrond, en dit is goed om weg te breek. Hierdie beraad dwing jou uit jou gemaksone.”
Sélim het ook onlangs ’n fliek, A Slide and Barbed Wires, oor die detensie van emigrantkinders in Frankryk gedoen wat baie aandag gekry het. Dit is op Franse nasionale televisie uitgesaai en UNICEF het die fliek ook ondersteun, soveel so dat die fliek selfs in die Franse parlement vertoon is.
Sofia Polishchuk (23) van Oekraïne is ’n voorlopige doktorsgraadkandidaat by die George Washington-universiteit se regsfakulteit, waar sy nasionale sekuriteit en internasionale reg studeer. Sy het die Children of Ukraine-stigting in 2020 op die been gebring en daarmee fondse vanaf die Weste na die oorloggeteisterde gedeeltes van haar land gestuur.
“Natuurlik weet ek baie van fondswerwing, maar ek het tydens die beraad nogal baie van bemarking geleer by Courtney Gehle, kommunikasiebestuurder van Global Changemakers, se bemarkingsessies. ’n Mens moet maar altyd oop wees vir almal se invloed en jy kan lesse by elkeen leer,” sê Polishchuk.
Samia Shawari (26) is van Amman, Jordanië. Sy is ’n megatroniese ingenieur en die stigter van Profounders, ’n besigheid wat ’n bewustheid rondom sosiale kwessies skep.
Een ding wat vir haar uitgestaan het, was hoe die deelnemers ’n korrelasie tussen besigheid en die natuur gekry het.
“Ek het geleer hoe om lesse van die natuur in besigheid te gebruik. Daar was soveel interessante gesprekke – mense praat oor een ding, dan lei dit jou weer op ’n ander spoor. Die ryk geselskap het alles weerspieël wat ek dink. Ek wil nie net verandering bring nie, maar wil iemand wees wat ander beïnvloed om ’n changemaker te wees. Ek ontwerp speletjies en wil speletjies ontwerp wat mense beïnvloed om ’n verskil te maak. Ek het geweet Suid-Afrika is pragtig en ek was nog nie eens in Kaapstad nie. Ek sal beslis terugkom.”