ATKV gee erkenning aan al die variëteite van Afrikaans by Suidoosterfees

Gedurende die Covid-19-pandemie was feestyd meestal van die kalender geskrap. Die Suidoosterfees het wel tydens die pandemie op klein skaal projekte en ’n fees aangebied, maar sien uit daarna om nou groter aanbiedinge aan te pak. Vanjaar lyk dinge weer meer normaal en feeskatte kan opgewonde raak om die immergewilde Suidoosterfees van 27 April tot 1 Mei by te woon.
Die ATKV as ’n taal- en kultuurorganisasie ondersteun dié fees al die afgelope 16 jaar. Vanjaar gee hulle as borg van die fees erkenning aan al die variëteite van die Afrikaanse taal. Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, sê die ATKV is opgewonde om deel te wees van die Suidoosterfees. “Ons wil deel in hul kreatiwiteit en saam met die Suidoosterfees bou aan die toekoms, want uiteindelik is kunstefeeste onherroeplik deel van ’n suksesvolle Suid-Afrika.”
Die ATKV se betrokkenheid stel die Suidoosterfees in staat om ontwikkelingswerk in Afrikaans te laat gedy, kritiese debatvoering te stimuleer en om nuwe produksies in Afrikaans die lig te laat sien. “As ’n kunstefees wat nuwe kunsuitings vervaardig dra die Suidoosterfees by tot die ontwikkeling en vooruitgang van teater en ander genres in die uitvoerende kunste. Inwoners van Kaapstad en omgewing kry deur feesaktiwiteite die geleentheid om die kunste op ’n bekostigbare manier te ervaar en te geniet, en toerisme na die stad word danksy ’n unieke feesaanbod aangemoedig,” sê Gerrie.
Volgens hom is kulturele diversiteit en inklusiwiteit sentrale uitgangspunte wat die Suidoosterfees se bedryfsaktiwiteite rig binne die raamwerk van ’n tweeledige doelstelling: (1) om ’n platform te bied waar plaaslike kunstenaars se talent ten toon gestel en nuwe talent ontgin kan word; en (2) om teater en kuns toeganklik en bekostigbaar te maak. Die Suidoosterfees glo in die krag van kuns om ontwikkeling en samehorigheid binne die gemeenskap wat gedien word te bevorder.
In die lig van bogenoemde ondersteun die ATKV die Suidoosterfees as volg:
1) Optredegeleenthede vir wenners van die ATKV-Tienertoneel
Die drie wenstukke van die ATKV-Tienertoneel word ingesluit op die amptelike program van die Suidoosterfees en die produksies sal op Woensdag 27 April 2022 in die Kunstekaap-teater opgevoer word.
2) ATKV-Tienertoneel-opleidingspakket
Die Suidoosterfees bied in samewerking met die ATKV vir die eerste keer ’n tienertoneel-opleidingspakket vir feesgangers aan. Die pakket sluit bywoning van die volgende in:
- Al drie wenproduksies van die ATKV-Tienertoneel
- Meesterklasse, aangebied deur professionele akteurs en regisseurs
- Ander professionele produksies op die feesprogram
3) Jakes Gerwel-gesprekke in samewerking met die ATKV
Tien skrywersgesprekke word tydens die fees onder die vaandels van die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV aangebied.
4) ATKV-Naelstringlesing
As deel van die Jakes Gerwel-gespreksreeks word die ATKV-Naelstringlesing op 27 April deur dr. Willa Boezak aangebied.
5) ATKV as vennoot van die Stemme-projek
Die Stemme-projek is ’n reeks monoloë wat die eerste keer in 2021 deur die Suidoosterfees en LitNet aanlyn aangebied is. In 2022 beplan die Suidoosterfees om monoloë van 2021 en 2022 gratis as kort teateroptredes by die feesprogram in te sluit.
6) ATKV as vennoot van Woorde soos kerse
Die gevierde digter, dramaturg en skrywer Antjie Krog word vanjaar 70 jaar oud. Om dié mylpaal te vier, beplan die Suidoosterfees om gedeeltes uit haar vertalings van verse uit inheemse tale in Afrikaans, opgeneem in die publikasie Met woorde soos met kerse, as ’n produksie aan te bied. Die bundel is ’n waardevolle toevoeging tot die letterkundige skat van Afrikaans en bevat gedigte wat oor ’n tydperk van meer as 150 jaar opgeteken is. Dié projek word later in die jaar aangebied.
7) Oom Bey, my pa
Die ATKV ondersteun hierdie produksie. Oom Bey, my pa vertel die verhaal van Beyers Naudé (soos gesien deur die oë van sy jongste kind en enigste dogter, Liesel) en fokus op die tyd en oorsake van sy skuif in ideologie – en of dit werklik ’n skuif was. Liesel ontleed haar verhouding met haar pa teen die agtergrond van sy stryd tussen gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan die kerk.
8) VVA-werkswinkels
Die Suidoosterfees bied aan die ATKV en Vriende van Afrikaans die geleentheid om die gewilde VVA-leeskonferensie tydens die fees aan te bied.