ATKV glo ATM-naamsverandering is onnodig

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) slaag daarin om die diverse samestelling van Afrikaans – ’n taal wat hier in Suid-Afrika ontstaan het – te omarm, en daarom is ’n naamsverandering onnodig.
Só sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, in reaksie op berigte dat Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, versoek het dat dié monument se naam moet verander.
Die ATKV en die ATM loop reeds vir dekades lank saam ’n pad as strategiese vennote. Die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB) – wat in 1991 in die ATKV opgeneem is – was vanaf 1963 intensief by die werksaamhede van die ATM betrokke en het mettertyd op eie koste al die administratiewe en sekretariële pligte oorgeneem. Die organisasie het ’n groot rol gespeel in fondsinsameling en het self ook ’n bedrag geskenk vir die ATM se werksaamhede.
Die ATM het deur die jare ’n bekende baken en tuiste vir ATKV-projekte, soos die ATKV-Rieldans, #OnseFees en verskeie gesprekke oor taal, geword. “Hierdie geleenthede skep groter begrip vir mekaar se eiegoed en kulture, en sal noodwendig lei tot ’n beter Suid-Afrika vir almal. Dis immers lankal bewys dat kultuur broodnodige brûe kan bou. Om ’n naam te verander is bloot net dit: die verandering van ’n naam,” sê Sonél.
Dit was vir die ATKV nog altyd belangrik om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel te maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika. “Die ATKV glo dat daar gefokus moet word op die toekoms sonder om die verlede in te boet. Afrikaans as taal het ’n ryk en diverse geskiedenis, en om te weet wie jy is en waar jy vandaan kom, is kernbelangrik om die toekoms met selfvertroue te kan tegemoet stap.”
’n Openbare vergadering waarop die kwessie bespreek sal word, word beplan vir eerskomende Saterdag 28 Mei. “Die ATKV was nog altyd van mening dat konstruktiewe gesprek die weg baan vir versoening, en ons gaan ’n afgevaardigde na die vergadering stuur om ons organisasie se standpunt te gaan stel,” sê Sonél.
Alle lede van die ATKV word aangemoedig om óf die openbare vergadering op 28 Mei in die Paarl by te woon óf ’n e-pos met konstruktiewe kommentaar te stuur na admin@taalmuseum.co.za.