ATKV gooi stuiwer in armbeurs vir entrepreneurs

In samewerking met die entrepreneur, skrywer en spreker, Albert van Wyk (29), loods die ATKV weer hierdie jaar die “Maak My ’n Miljoenêr” Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Die doel van hierdie kompetisie is om entrepreneurskap in ons moedertaal te bevorder, omdat entrepreneurskap tog die toekoms van Suid-Afrika is. Albert is op soek na ’n entrepreneur op hoërskool wat hy kan mentor om in sy voetspore te volg en ook ’n miljoenêr te word. Leerders met besighede kan deelneem aan hierdie kompetisie, waar hulle mentorskap en leiding van Albert en van ander suksesvolle entrepreneurs sal ontvang.
“Ons sien uit om te sien hoeveel entrepreneurs gaan inskryf vir hierdie jaar se kompetisie met hul innoverende besighede en die hoop om die Entrepreneur van die Jaar-trofee te wen,” sê Albert.
Deur die kompetisie wil hy by jongmense ’n groter bewustheid skep oor entrepreneurskap en die potensiaal wat daarin lê. “Ek wil hê hulle moet weet dat hulle ook entrepreneurskap kan gebruik om onafhanklik te word, om hulle drome te finansier,” sê hy. Hy wil ook mentorskap bied aan jong entrepreneurs. “Mentorskap is vir my baie belangrik. Toe ek op skool was, het ek maar net gewens ’n suksesvolle entrepreneur stap daar in en gee my raad met my planne en idees. Ek wéét daar sit vir seker ’n hele klomp entrepreneurs in ons skole se klaskamers en ek wil hulle graag bedien met raad en daad.”
Tydens verlede jaar se kompetisie het Albert agt maande saam met die toptien-kandidate spandeer en hy gaan hierdie jaar dieselfde doen. “Verlede jaar se kandidate het my geweldig beïndruk. In die reis wat ek saam met hulle gestap het, het hulle my hoogste verwagtings oortref. Aan die einde van ons agt maande het hulle gesamentlik R360 000 ingebring en hulle gesamentlike besigheidsevaluasie was R1.2 miljoen! En dít is hoërskoolleerlinge. Een van die entrepreneurs het sy besigheid begin op die dag wat ek my praatjie by sy skool aangebied het. Aan die einde van die agt maande het hy R36 000 in sy rekening gehad. Die wenner, Matthew Blaauw, ’n graad 11-leerder van die Hoërskool Oos-Moot, het met R5 in sy sak begin. Vandag bring hy R26 000 per maand in met sy aanlyn besigheid, waardeur jy produkte kan bestel en dit word reg voor jou deur afgelewer. Hy lewer ook produkte aan snoepwinkels landwyd.
“Wat my die meeste opgewonde maak is om jong entrepreneurs te mentor en te sien hoe hulle groei. Dit is ’n groot passie vir my. Oor die laaste vyf jaar het ek meer as 280 skole landwyd met my praatjies bereik. Ek wil jongmense bemagtig. Ek kom self uit arm omstandighede en entrepreneurskap het my, my familie en vriende se lewens verander. Ek kon daardeur vir myself en my nageslag ’n beter lewe skep,” sê Albert.
Hy sê die ATKV was nog altyd baie positief oor entrepreneurskap. “Ek sien en beleef hulle passie om die jeug te help en te bemagtig en entrepreneurskap is een magtige stuk gereedskap om dit reg te kry!”
Klik hier en kyk die video vir meer inligting oor hoe jy vir “Maak My ’n Miljoenêr” kan inskryf. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Maart.