ATKV help jonges vir hoërskool voorberei
“Die ATKV het vandag die voorreg gehad om die saadjies van moed, deursettingsvermoë en spanwerk te plant.”
Dit is Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-gesinstak in Wellington, se pragtige beskrywing van die leierskapsopleiding wat sy en haar span vroeër vandeesmaand vir die leierskaprade van die landelike laerskole in die omgewing aangebied het.
“Hierdie is die tweede jaar wat ons leierskapsopleiding doen vir Graad 7’s wat volgende jaar na die hoërskool op die dorp moet gaan,” sê Tharina.
“Dit is nogal ʼn traumatiese ervaring vir leerders van die landelike laerskole wanneer hulle na die hoërskole op die dorp oorskakel en baie van hulle sukkel om suksesvol aan te pas.
“Daar is ʼn groot klem in landelike laerskole om hulle leerders emosioneel vir die hoërskool voor te berei, dus praat ons op hierdie dag oor hoe dit in die hoërskool is en wat van hulle verwag gaan word.”
Tharina sê ʼn bykomende faktor wat die plattelandse Graad 8-leerders van volgende jaar se taak nog meer gaan bemoeilik, is die nagevolge van die Covid-19-pandemie.
“Ek is uiteraard nie ʼn onderwyskenner nie, maar daar word gesê dat die Graad 7-leerders van vanjaar ʼn jaar agter is weens die pandemie. Die rede vir hulle agterstand is grootliks vanweë hulle beperkte toegang tot die internet.”
Tharina-hulle het Groenberg Primêr, Bergrivier Primêr en Soetendal Primêr na die leierskapsopleiding uitgenooi, terwyl Wellington Primêr, ʼn dorpskool, ook genooi is omdat so baie landelike leerders daar onderrig ontvang.
“Net om jou ʼn idee te gee van hoe taai dit vir leerders van die plattelandse skole in die hoërskool kan wees: slegs agt van die 27 kinders wat ses jaar gelede in Graad 7 in Groenberg Primêr was, het vanjaar gematrikuleer,” sê Tharina.
“So, ja, dit wat ons doen is ʼn druppel in die emmer, maar by die leierskapsopleiding bespreek ons spesifiek watter gereedskap leerders saam met hulle moet neem om suksesvol in die groter groep in die dorpshoërskole te funksioneer.”
Negentig Graad 7-leerders het die leierskapsopleiding bygewoon ‒ almal in gewone klere sodat hulle nie kon onderskei wie van watter skool afkomstig is nie.
Die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams, leefstylafrigter Issie Hugo en motiveringsprekers Berenisha Karolus en Aimee-Leigh McCarthy het die leerders toegespreek.
“Ek het vir Quinton as hoofspreker gevra om spesifiek oorlewingstegnieke met die leerders vir hulle skuif na die hoërskool te bespreek,” sê Tharina.
“Hy het daarop klem gelê dat hulle ʼn ondersteuningsnetwerk moet vind en dus in groepe beweeg en mekaar in groepe ondersteun sodat die eerste ruk in die hoërskool nie so vreemd is nie.
“Berenisha is ʼn pleegkind wat in ʼn informele nedersetting grootgeword het. Sy het matriek met onderskeiding geslaag en ʼn kursus aan Boland-kollege geloop. Sy is vanjaar ʼn assistent-onderwyser by een van die skole wat genooi was en gaan volgende jaar begin met haar onderwysgraad by Unisa.
“Aimee-Leigh het tussen verskeie pleegsorg- en kinderhuise grootgeword en op 16 met ʼn tweeling swanger geraak, maar het hierdie jaar matriek geskryf!
“Berenisha en Aimee-Leigh is voorbeelde vir die leerders dat jy ondanks jou agtergrond deur harde werk en deursettingsvermoë inderdaad sukses kan behaal.”
Cinty Swarts, skoolhoof van Bergrivier Primêr, bedank die ATKV dat haar leerders die geleentheid gegun is om die leierskapsopleiding by te woon.
“Ons leerders het dit uiters leersaam en interessant gevind,” sê sy.
“Ek kan regtig sien dat hulle selfvertroue verbeter het en ek glo dat hulle nou gereed is vir die hoërskool.”
Neal Marthinus, onderhoof van Wellington Primêr, het sy dank uitgespreek aan die ATKV “vir die aangename en fantastiese sessie saam met ons leerlingraad”.
“Die leerders was stomgeslaan deur die sprekers se lewensverhale; hulle het belangstellend geluister en ook agterna vrae gevra,” sê Neal.
“Die praatjies het baie van hulle diep aangeraak. Die interaksie tussen die sprekers en die leerders was goed, vrylik en spontaan. Dit was op die leerders se vlak en selfs diegene wat Engelssprekend is het die boodskap verstaan, grootliks danksy die emosie wat betrokke was.
“Ek dink die gawe gesindheid, vriendelikheid en gemaklikheid van die sprekers het die kinders oorgewen, want hulle verwag dat mense met sulke ervaringe nors en ongelukkig sal wees.”
Neal is vol lof vir die “verskriklike goeie werk wat die Wellingtonse ATKV-tak in en om ons gemeenskappe doen”.
“Ons leerders sukkel met baie uitdagings in hul gemeenskappe en moet daagliks daarteen waak om nie by verkeerde, negatiewe en onmenslike dinge betrokke te raak nie,” sê Neal.
“Ons kinders is nie opgewasse om sulke situasies te hanteer nie. Dit is ervaringe soos hierdie leierskapsopleiding wat die kinders motiveer en met hoop toerus om die regte besluite in die lewe te neem.
“Die ATKV se betrokkenheid by ons skool het werklik ʼn lig by die leerders laat opgaan. Hulle het minder vrees vir die veranderinge wat wag wanneer hulle die laerskool verlaat.
“Dankie ATKV vir jul betrokkenheid by ons kinders, skool en gemeenskap!”