ATKV help onnies om geskiedenis beter te verstaan
In die geskiedenisboeke lê epiese verhale opgesluit. Dit bevat die mens se suksesse en tragedies. Dit is ’n vakgebied wat vir leerders insig kan bied en kan leer om nooit die foute van die verlede te herhaal nie.
Dit is egter vir onderwysers moeilik om die vak só aan te bied dat kinders geskiedenis nie soos papegaaie opswot nie.
Die ATKV-tak Rooiduin het saam met die departement van onderwys ’n debat in geskiedenis vir onderwysers in die Upington-streek aangebied.
“Die doel was om onderwysers te laat redeneer oor die geskiedenis en nie net bloot feite te aanvaar nie. Ons wou hê hulle moes dink oor die implikasies en agtergrond van geskiedkundige gebeure sodat hulle kinders ook kan leer om krities oor die vakgebied te dink,” sê Marco van den Berg, ATKV-streeksbestuurder.
Die geleentheid het by die onderwysdepartement se hoofkantoor in Upington plaasgevind en sowat 30 onderwysers het dit bygewoon.
Volgens Beatrix Venter, takvoorsitter, is die ATKV-tak Rooiduin deur die departement genader om die debat te ondersteun.
“Ons het 29 skole in die streek en ons wou graag almal betrek. Onderwysers sukkel self om krities oor geskiedenis te dink, en as hulle dit nie kan doen nie, gaan hulle leerders nie kan bemagtig nie.
“Omdat baie van ons taklede onderwysers is, het ons die leemte gesien. Onderwysers en leerders word oorlaai met inligting en ons wil hê hulle moet anders kan dink oor die leerwerk.”
Die ATKV se Magon Mouton het die debat aangebied.
“Magon het self op ’n klein dorpie gematrikuleer en ons weet watter briljante spreker sy is. Verder is sy ’n rolmodel vir ons leerders omdat sy gewys het jy kan van ’n klein dorpie af kom en groot hoogtes bereik.”
Volgens Beatrix beplan hulle om verdere debat- en inligtingsessies vir onderwysers aan te bied.
“Ons wil die hele Noord-Kaap se onderwysers betrek. Kennis is mag en ons kan baie uit die verlede leer.”