ATKV-Inkstories laat die ink in jou are bruis

In 2018 het die ATKV-taalfdeling die projek, ATKV-Inkstories, die lig laat sien. Hierdie projek het ontstaan om die liefde vir Afrikaanse letterkunde aan te wakker. Letterkunde is soveel meer as net woorde op papier. Letterkunde weerspieël mense se emosies, ervarings en gebeure op so ’n wyse dat mense ’n stukkie van hulself daarin kan sien.
As jy dink letterkunde is nét hoogs literêre boeke of digbundels, moet jy weer dink. Dit is ook niefiksie, kinder- en jeugverhale, Afrikaanse films en reekse en musiek. ATKV-Inkstories is dié unieke platform waar alle genres van letterkunde bespreek word.
Die ATKV is gelukkig om goeie vennootskappe met Exclusive Books en Pretoria FM te hê. Elke gewone ATKV-Inkstorie-geleentheid word by ’n Exclusive Books-winkel gehou. Die atmosfeer tussen die boeke sorg vir passievolle geselskap en meesterlike gesprekke.
Is jy nog nie oortuig nie? Kyk net waaroor is daar al by die ATKV-Inkstories gesels. Prof. Willie Burger het die projek afgeskop met ’n gesprek oor sy boek Die wêreld van stories. Afrikaanse reekse en flieks het ook aandag geniet. Louis Pretorius het gesels oor Fynskrif en Andre Velts oor Raaiselkind. Deon Meiring en Jako Meyer (Moses Metroman) het saamgesels (en gesing) oor poësie versus liriek. Wat is ’n ATKV-Inkstories sonder Leon van Nierop? Hy was by twee geleenthede ’n spreker.
Die inperkings het glad nie die ATKV-Inkstories gekeer nie. Dit is gewoon aanlyn aangebied. In 2020 was daar drie aanlyn ATKV-Inkstories met Bennie Fourie, die vervaardiger van Hotel, Jaco Jacobs (kinderboekskrywer) en Carla van der Spuy (niefiksieskrywer).
Vir meer inligting oor ATKV-Inkstories, kontak vir Mandie Ehlers by mandiee@atkv.org.za of 011 919 9018 en hou die ATKV se sosiale media dop.