ATKV-Jeugberaad 2022 ‘beteken baie’
“Fantasties!” “Insiggewend!” “Ongelooflik!”
Dié drie woorde is meer as net byvoeglike naamwoorde. Dit is die woorde wat ATKV-Jeugberaadgangers gebruik om hul belewenis op te som.
Altesaam 133 leerders het tydens die Julie-vakansie by ATKV-Klein-Kariba en ATKV-Goudini Spa byeengekom om te gesels oor hoe hulle die samelewing beleef.
Lehandi Eygelaar, ’n onderwyser aan die Hoërskool Durbanville en groepleier tydens die beraad, glo dat dit onmoontlik is om die Jeugberaad by te woon en nie oor ten minste een ding jou denkwyse te verander nie.
“’n Mens kyk dalk vooraf na die sprekers en na hul onderwerpe en vorm jou eie idees, maar dan kom die sprekers en boul jou uit met ’n ander perspektief. ’n Perspektief wat dikwels vir jou stof tot nadenke gee,” vertel Lehandi.
“Wat ’n voorreg om nuwe mense te ontmoet en die geleentheid te kry om te verskil, maar ook te probeer om mekaar te verstaan en die kans te kry om met respek mekaar positief te beïnvloed.”
Dewaldt de Kock, kampusleier van Doxa Deo Linden en een van die sprekers by die Jeugberaad, beaam Lehandi se woorde en sê dis ’n geweldige voorreg om met ons leiers van môre te werk.
“Ek het oor die jare gesien hoe leiers wat die ATKV-Jeugberaad bywoon hulle regmatige plek in die samelewing inneem.
“Om omring te wees deur ander jong mense maak altyd ’n geweldige klomp energie en idees los. Ek dink as ons elke vonk wat omsit in ’n vuurtjie kan meet, sal ons verbaas wees oor die katalisator-oomblikke wat rondom die Jeugberaadtafel begin.”
Vir Dewaldt was dit veral fantasties om die hoop wat ons jeug vir die toekoms het te beleef.
Divan Brink van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg meen dat die ATKV-Jeugberaad ’n ongelooflike ervaring is wat hy sterk aanbeveel vir iemand wat hul leierseienskappe, asook hulself wil ontwikkel.
“Ek het daar weggegaan as ’n beter leier. Wat ek veral geleer het, is om terug te staan om iemand wat die taak dalk beter as ek kan doen die kans te gee om hul talente aan te wend.”
Vir Lisinda de Jager, ’n deeltydse lektor aan die Universiteit Stellenbosch (US), residensiële hoof van die Heemstede-koshuis en een van die sprekers, bied die Jeugberaad ’n positiewe omgewing waar jong leiers kan stoei oor moeilike onderwerpe sonder om geoordeel te word.
“Hier word leerders uitgedaag om vir hulleself te dink. ’n Vaardigheid wat ons beslis wil ontwikkel, want dis belangrik vir jong mense om krities te dink.
“Natuurlik wil ’n mens ook hoëprofieldenkers stimuleer en ’n omgewing skep waar sosiale netwerke gebou kan word – presies wat by die ATKV-Jeugberaad gebeur,” sê Lisinda.
En as ’n mens kyk na die drukkies wat uitgedeel is voor almal se vertrek en die trane wat afgevee moes word, sê Lehandi, kan ’n mens net tot een gevolgtrekking kom (en toevallig ook drie woord): “Dit het baie beteken!”