ATKV-Jeugleiersimposium: Môre se leiers vertel
Die hoofleiers van verskeie skole het na afloop van die ATKV-Jeugleiersimposium, wat van 11 tot 14 Desember 2023 by ATKV-Goudini Spa plaasgevind het, hul opinies omtrent hoop, drome en mentors wat die regte saadjie by hulle geplant het, gedeel.
Brevino Rossouw (17), hoofseun van die Swellendam Sekondêre skool, sê:
“Een ding wat uitgestaan het, was hoe om gees te bou by jou skool. In my skool het die geesgoed soos die Valentynsbal uitgesterf. Deel van die aanbiedinge was om dit terug te kry. Dis die dinge wat jou skool laat geniet – nie net opstaan om skool toe te gaan nie.
“Wat ook uitgestaan het, is ons leierskap gaan nie ophou as ons klaar is met skool nie. ’n Leier word nie gekies nie, hy of sy word gebore, so jy kan kies hoe jy dit verder wil uitleef.”
Brevino wil volgende jaar studeer om ’n verkeersman te word, sodat hy ’n inkomste kan verdien en sy grootmenslewe vroeër kan begin.
Jean Joubert (17), hoofseun van die Hoërskool Nico Malan, sê:
“Daar is mense van regoor Suid-Afrika met wie ek goeie bande gebou het hierdie week – selfs mense van Namibië. Met sosiale media sal ek kontak kan hou en verder bande kan bou.
“Vir my lê hoop in ons verskeidenheid, ons humor en ons sport.
“As ek net een leerder se dag beter maak as hoofseun, is dit vir my genoeg. GP van Rheede van Oudtshoorn, wat met ons oor gees gepraat het, het vir my uitgestaan. Ek het aanklank gevind by sy toespraak oor hoe om gees te bou, volumegetalle en hoë impakskares.”
Anke Stofberg (17), onderhoofdogter van die Hoër Meisieskool Paarl:
“Oom Johan Lategan se praatjie sê ons is nie like-minded nie, ons is value-minded. Dit beteken die meeste van ons hier het ooreenkomstige waardes en dis wat ons bymekaar bring.
“Toe moes ons sê: ‘We want to connect our what with our why’.
“As jy studeer, waarom studeer jy? Doen jy dit vir jouself of vir iemand anders? Só het ons baie van onsself en bymekaar geleer. Die ATKV het vir ons ’n ruimte geskep om te wees wie ons wil wees, binne perke. Die sprekers was ongelooflik.
“My idee van hoop is uniekheid en eenheid. Jy kan wees wie wil jy wil wees, maar saam moet ons vorentoe beweeg. Die Springbokke is ’n groot voorbeeld vir ons.
“Dankie aan die ATKV en ons skole vir die moeite en die voorreg om hier te wees.”
Gideon Lambrecht (17), hoofseun van die Hoërskool Stellenbosch, sê:
"Ek het gedink hier gaan 20 leerders wees, toe kom ek hier aan en daar is 125 leerders. Wat vir my die spesiaalste was, was die persoonlike gesprekke wat ek met mense gehad het. In hierdie drie dae het ek vriendskappe gebou met mense wat dieselfde dink as ek. Die hoeveelheid kere wat ek al vir mense gesê het, ‘ek weet waarvan jy praat’, was vir my ongelooflik.
“Ek en die twee Namibiërs, Willem Lourens en Jaco van Schalkwyk van Walvisbaai, was kamermaats en ons het soveel persoonlike gesprekke gehad. Ons het op soveel vlakke dieselfde oor leierskap, ’n verhouding met die Here en fisiese gesondheid gedink. Dit was mind blowing.
“My droom en hoop is dat die land sy potensiaal eer sal aandoen. As die soort mense wat hierdie week hier was ’n beeld skets van ons land, kan ek net glo dat ons kan groei as ’n land.
“In my skool wil ek ’n hoofleier wees vir my jonger graad. Ek wil ’n voorbeeld stel en ’n voorbeeld wees vir outjies wat nie vir hulself kan opstaan nie.”
Jaco van Schalkwyk (17), hoofseun van die Hoërskool Walvisbaai Privaat, sê:
“Die land moet ’n bietjie verander, die land is in ’n slegte spot. As ons as ’n eenheid saamwerk en ons sokkies optrek, kan ons eerder vorentoe as agtertoe beweeg. Ek wil geestelik en fisies vorentoe beweeg, stappie vir stappie – elke millimeter maak ’n verskil, nie te groot jumps nie.
“Lisinda de Jager se praatjie oor mentorskap het met my gepraat. Dit het my geleer dat ’n mens nie alleen deur die wêreld gaan nie. As jy klein verbeteringe aanbring, klein veranderinge maak, klomp slides volg, doen jy genoeg.”
Theana Mulder (18), onderhoofdogter van die Hoërskool Nico Malan, sê:
“As daar regte leiers gekies word, sal daar lig kom. Daar moet eenheid wees, soos gister toe ons ons talente kon wys. ’n Meisie sing toe en almal het hulle fone met liggies uitgehaal en dit rondgeswaai.
“Vir my was Rian Truter se praatjie oor next-level-leierskap iets om te onthou. Jy moet dit stappie vir stappie vat om jou hoogtes te bereik.
“Lisinda het ook gesê ons moet priotiseer. Ons moet die top-10-dinge neerskryf wat ons wil doen. Alles bo die eerste vyf moet ons eers los, en dit stappie vir stappie aanpak.”
Willem Lourens (17), onderhoofseun van die Hoërskool Walvisbaai Privaat (en die grapjas by vanjaar se ATKV-Jeugleiersimposium), sê:
“Ek is in Namibië gebore. My droom is om beurtkrag te vermy, so ouens, kom Walvis toe as julle dit wil vermy!
“Die droom vir myself is bou aan ’n karakter en bou as ’n persoon om geluk versprei.
“My gunstelingaanbieding was GP van Rheede van Oudtshoorn, AKA ‘Coppertop’. Hy het ons geleer hoe om gehore te laat lag en hoe jy hulle aandag hou deur interaktief te wees.”
Sesona Nompunga (17), onderhoofseun van die Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier, sê:
“Ek hoop vir ’n land van verandering, waar ons ’n eenheid sal wees soos die week hier. Ek wil ’n goeie rolmodel wees vir ander.
“Rian Truter se praatjie oor next-level-leierskap sê: ‘If you are more fortunate, build a longer table and not a taller fence.’
“Dit kan ’n groot verskil maak in ons land. As jy beter af is, help ander sodat ons almal om dieselfde tafel sit. Is dit nie die toekoms wat ons wil hê vir onsself en vir ander nie?”
Danielle Kitzhof (21), ’n fasiliteerder by die ATKV-Jeugleiersimposium, is oorspronklik van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg, maar studeer tans medies aan die Universiteit van die Vrystaat:
“Ek was in graad 11, aan die einde van 2019, hier. Ek het ’n wonderlike netwerk gebou toe ek hier was en ek is nou nog vriende met voormalige deelnemers wie se opinies ek kan opsoek. Die ATKV kry dit ongelooflik goed reg om ons land se beste breine bymekaar te bring. Hulle kry dit reg om kinders op ’n geestelike, emosionele en intellektuele vlak te laat groei.
“Destyds was ek so opgewonde om die nuwe idees uit te voer wat ek hier geleer het. Toe kom Maart 2020 met die Covid-19-pandemie en alles val plat. As onderhoofmeisie wou ek graag ’n impak maak om die graad 8’s te help, maar ek het gevoel ek het nie.
“Toe dié geleentheid vier jaar later oor my pad kom, het ek dit aangegryp. Dis full circle – dié leerders was in graad 8 toe ek in matriek was.
“Ek kon nie destyds ’n verskil maak nie. Nou het die Here vir my ’n geleentheid gegee om dit te doen.
“Die graad 8’s wat nou hier sit, het destyds vir amper twee jaar nie voorbeelde gehad nie.
“Ek het nie hoop gehad nie, nie gedink die pandemie gaan eindig nie. Om nou terug te dink, gee vir my hoop vir die toekoms en die land. Ten spyte van alles is dié leerders hiér.”