ATKV-jeugtak Afriganza knap gedenktuin op
Die lede van die ATKV-jeugtak Afriganza het saam met ’n groep medeleerders van die Hoërskool Montana in Worcester hul moue opgerol om ’n spesiale stukkie grond op die skoolterrein te verfraai en te laat herleef.
Die projek, Operasie Gedenktuin, was daarop gemik om die groen ruimte vir moontlike toekomstige projekte en geleenthede op te knap.
“Die tuin was ná stormreën in 2023 nie in ’n goeie toestand nie. Dit was vol onkruid en daar het ook oral vullis en ander vuilgoed rondgelê,” sê Karla Vink, takvoorsitter en ’n onderwyser by die Hoërskool Montana.
“Hoewel die gedenktuin voorheen vir verskeie verskillende doelwitte benut was, wou niemand meer daarheen gaan nie omdat die gebied mettertyd so toegegroei het. Die tuin is aanvanklik in die dienstermyn van ons voormalige hoof, mnr. Gerhard Biesenbach, geplant. Daar is kruise plat op die grond aangebring ter herinnering van die kinders wat oorlede is terwyl hulle by ons in die skool was. Dan is daar ook die drie kruise waar ons elke jaar ons Paasdiens gehou het. Daar is destyds selfs ook musiekkonserte in die gedenktuin aangebied.”
Karla sê die ATKV-jeugtak Afriganza het besluit om self iets omtrent die kwessie te doen.
“Ons het skoffels en grawe by die faktotum geleen, terwyl die skool se landloopspan en ander vrywilligers uit hul eie ook kom help het om op te ruim,” sê Karla.
“Hierdie is ’n herhaalbare en volhoubare projek wat omgewingsbewustheid by ons lede en ander leerders in die skool kweek. Ons gaan gereeld opruim en aanhoudend aan die tuin werk en waarskynlik een keer per kwartaal ’n groot skoonmaaksessie organiseer waarby almal kan betrokke raak.
“Dit gaan ook oor selfverryking, iets vir die kinders om te doen waarop hulle kan trots wees en dadelik die resultate van hul inspanning en harde werk kan sien. Dit dien boonop as ’n lekker inspuiting van gesonde dopamien wat ’n gevoel van plesier, bevrediging en motivering bevorder.”
Karla sê Afriganza is gretig om in die toekoms ATKV-funksies in die gedenktuin aan te bied.
“Ons beplan om een keer per kwartaal eers net die kinders en dan mettertyd die ouers en almal wat iemand aan die dood afgestaan het uit te nooi om op ’n bio-afbreekbare papiertjie ’n boodskap aan die person wat hulle verloor het te skryf. Hulle kan daardie boodskap dan onder ’n klip neffens die drie groot kruise plaas. Dit bied ’n gesonde uitlaatklep aan diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het en skep ’n geleentheid om hulde aan daardie geliefdes te bring.
“Dan is daar ook voorheen in die klein amfiteater toneelstukke en dies meer opgevoer en ons wil graag onder die vaandel van die ATKV daarmee voortgaan. Ons beplan voorlesings van Afrikaanse gedigte en boeke, dinge met kersies en liggies … Ons het baie idees oor hoe om die gedenktuin vir positiewe en opbouende projekte te gebruik.
“Ons lede se doel is basies ‘uit met die onkruid en in met die nuwe’. Die skoonmaak is prakties en simbolies van aard – maak die tuin skoon, maar maak ook jou hart en gedagtes skoon. Al hierdie projekte rakende die gedenktuin bied ’n uitlaatklep vir opgekropte emosies.”
Taklid Zaakirah Kerspuy beskryf Operasie Gedenktuin as ’n bevredigende ervaring.
“Dit was vir ons ATKV-jeugtak ’n ongelooflike reis om ons skooltuin in ’n skilderagtige oase te omskep,” sê Zaakirah.
“Ons het dit met onwrikbare toewyding op ons geneem om die skoonheid daarvan te verbeter en die tuin ’n verwelkomende ruimte vir almal te maak. Jy sal ons gereeld vind, of dit nou ná skool of gedurende pouse is, waar ons ywerig werk om die tuin skoon te maak en die grond te versorg om te verseker dat dit vrugbaar is vir die groei van plante.
“Ons wil ons hartlike dank uitgespreek aan al ons Montie-vriende wat onbaatsugtig hul tyd en moeite tot hierdie projek bygedra het. Oom Gunther en sy hardwerkende span het die tuinwerk vir ons makliker gemaak deur hul raad en toerusting te verskaf. Selfs juffrou Bothma se landlopers het handjie bygesit.
“Julle onwrikbare toewyding en ondersteuning was deurslaggewend in die sukses van hierdie poging. Saam gaan ons ’n florerende tuin skep wat as ’n bewys van die krag van samewerking en ’n gedeelde visie dien.
“Maar ons missie eindig nie hier nie. Die ATKV-jeugtak Afriganza nooi almal uit en moedig almal aan om by ons aan te sluit in hierdie poging. Saam kan ons ’n florerende tuin skep wat ’n simbool van gemeenskap en natuurlike skoonheid word. Of jy nou groen vingers het of bloot ’n helpende hand wil bysit, jou teenwoordigheid en ondersteuning sal ongetwyfeld ’n verskil maak.
“Hierdie tuin het so baie potensiaal en die Afriganza-span beplan om dit ten volle vir toekomstige projekte te benut.”