ATKV-jeugtak Afritasties vier taal en tradisie

Die ATKV-jeugtak Afritasties by die Hoërskool Bergvlam in Mbombela het vanjaar op prettige maniere verskeie hoogtepunte gevier – Afrikaans wat vanjaar sy 100ste jaar as amptelike landstaal vier, die skool se 50ste verjaardag én die ATKV se 95ste verjaardag.
Hulle het verskeie projekte met die tema “Afrikaans vat vlam” aan onderwysers en leerlinge bekendgestel. Die doel was dat leerlinge hul taalkennis en kreatiwiteit kan uitleef en dat samehorigheid in die skool tussen onderwysers en leerlinge geskep word.
Die eerste deel van dié pret was om soos ’n idioom aan te trek, die tweede deel was ’n woordkompetisie en die derde deel was ’n massadans, getiteld “Noot vir noot” met tradisionele Suid-Afrikaanse eetgoed en Afrikaanse musiek.
Die twee voogonderwysers by die Hoërskool Bergvlam, Anseri Boje en Elsa van Zyl, vertel: “Die inspirasie vir ons projekte kom van die 100-jaar Afrikaans Amptelik – die Afrikaans-onderwysers betrokke by die ATKV en die komitee. Ons het jaarliks ook ’n projek ter viering van Afrikaans op Afrikaanse Taaldag in Augustus.
“Ons hoofdoel is om leerders die geleentheid te gee om in Afrikaans te sosialiseer. Leerders word aan Afrikaans, musiek en kos blootgestel. Vorige jare het ons onder andere ‘Vetkoek en vellies’ en ‘Afrikaans laat die tonge dans’ met lyndanse gehou.”
Met die idioom-dag is daar behoorlik uit die boks (of uit die hangkas) gedink. Die uitrustings het vir groot pret gesorg. “Jou hart op jou mou dra” het die eerste plek verower en “’n ou bok hou van jong blare” is deur die onderwysers gewen. Ander oulike uitrustings het “dit reën katte en honde” en “bak en brou” uitgebeeld.
Die woordkompetisie, “Afrikaans is aan die brand”, het van leerlinge gevra om hul mooiste, snaaksste of gunstelingwoorde in te skryf. Anseri sê die woordkompetisie het die meeste deelname getrek met meer as 300 inskrywings. Die 50 mooiste/snaaksste woorde is gekies en daarna die finale drie beste woorde: sprankel, vlymskerp en vlerksleep.
“‘Noot-vir-noot’ was ook ’n gunsteling wat beide die onderwysers en kinders betrek het. Spanne het per graad deelgeneem en daar was ook ’n onderwyserspan. Die graad 12-span was die wenners en het ’n lekker prys gewen. Met die massadans het al die leerders en omstanders deelgeneem en dit was groot pret.
“Met elke jaarlikse ATKV-jeugtak Afritasties-projek stel ons leerders bloot aan tradisionele Afrikaanse peuselhappies. Vanjaar was dit malvapoeding met vla en souttertjies,” vertel Elsa.
Almal het die vieringe terdeë geniet en sien uit na die volgende jaarlikse Afrikaanse Taaldag, vertel Anseri en Elsa.
“Die deelname neem elke jaar toe en dit is ook die geleentheid waar ons die beste presteerders in huistaal en eerste addisionele taal per graad (8-12) met ’n prys vereer.”
Die ATKV-jeugtak Afritasties is skaars drie jaar gelede met 20 lede gestig en het vandag ’n ledetal van 92. Die huidige voorsitter is Adrian Franz.