ATKV-jeugtak Goudveld vier Waardeweek

Vir die leerders van die Goudveld Hoërskool in Welkom is daar sewe waardes wat hulle streef om elke dag in die skool se gange uit te leef.
Geesdrif, omgee, uitnemendheid, trots, respek, integriteit en selfdissipline vorm almal deel van wat dit werklik is om ’n Goutie te wees.
Daarom het die ATKV-jeugtak Goudveld besluit om ’n hele week te wy aan dié sterk waardes wat hul skool so uniek maak.
“Ons praat baie oor ons waardes, maar doen ons genoeg om hulle uit te leef? Ons het besluit om dié week leerders aan te spoor om hulle waardes uit te leef, al is dit met klein dade. Elke bietjie maak ’n verskil,” sê Madelein Knoetze, takvoog van die jeugtak.
Die jeugtak het die week van 11-15 Augustus vir die eerste keer hul Waardeweek aangebied.
Volgens Madelein het hulle elke dag op een of meer van die waardes van hul skool gefokus.
“Ons het dit byvoorbeeld saam met die matrieks se 40 dae-viering gehou en lekker saam met hulle gees gevang.”
Die junior Olimpiese atleet, Miné de Klerk, wat ook ’n oudleerder van die skool is, het met die leerders gepraat oor selfdissipline.
“Die kinders het aan haar lippe gehang. Sy het soveel van hulle geïnspireer om hul drome na te jaag.”
André Styger, prokureur en motiveringspreker, het met die leerders kom praat oor integriteit en respek in die werksplek.
“Hy het die verhaal van die Amerikaanse bendeleier, Al Capone, met die kinders kom deel en ’n boeiende storie vertel wat ons skool se waardes vasgevang het.”
Om hul trots as Gouties uit te beeld, het die jeugtak elke klas uitgedaag om op dié dag die skoolterrein skoon te maak.
“Ons moet kan trots wees op ons skool en om ons skoolterrein netjies te hou, wys vir die mense daar buite wat dit is om ’n Goutie te wees.”
Mark Louwies, skoolhoof, het op die dag waarop uitnemendheid gevier is ook ’n motiveringspraatjie vir die leerders gelewer.
“As daar een ding is wat ons graag met hierdie week by die leerders wou tuisbring, is dit dat ons elke dag ons waardes moet uitleef en dat klein veranderings ’n groot verskil kan maak.”