ATKV-jeugtak raak harte by Jannie Roux-kinderhuis

Die ATKV-jeugtak HSD Delf Diep op Douglas is ʼn bedrywige tak en woeker al meer as tien jaar met hul talente op die dorp. Dit is ʼn tak wat nie net kultuurspore trap nie, maar ook diep spore in die gemeenskap laat.
Karin Southey is die takbestuurder van dié besonderse tak en ʼn onderwyseres by die Hoërskool Douglas.
“Ons skool is ʼn gekombineerde skool van graad R tot 12. Ons kinders mag van graad 6 by ons ATKV-tak aansluit en ons is omtrent so 100 lede sterk. Die tak is baie aktief en een van die hoogtepunte elke jaar is die ATKV-kultuurweek waaraan die hele skool mag deelneem.”
Karin gee ook drama by die skool en het vanjaar ʼn tienertoneelstuk afgerig, wat aan die Logan-toneelfees op Fraserburg deelgeneem het.
“Ontsnap gaan oor ʼn kinderhuis. Dit het my hart diep geraak en dit het ons laat besluit om ʼn projek vir die Jannie Roux-kinderhuis op Barkly-Wes te begin. Ons projek is dus uit die toneelstuk gebore.”
Hulle het ʼn blink plan gekry om in plaas van ʼn inskrywingsfooi vir die kultuurweek elke graad te vra om ʼn item vir die kinderhuis te skenk.
“Leerders moes elk volgens hul graad ʼn spesifieke item bring: graad R – leë geskenksakkies; graad 1 – waslappies; graad 2 – koekies seep of lyfwas; graad 3 – tandeborsels; graad 4 – tandepasta; graad 5 – deodorant; graad 6 – ʼn klein handdoekie; graad 7 – sjampoe; graad 8 – opknapper; graad 9 – lyfroom; graad 10 – ʼn kam of borsel; en graad 11 en 12 – vroulike higiëneprodukte, of skeermesse en skeerroom.”
Die projek het ʼn lewe van sy eie gekry toe die FROG (Fully Rely on God)-kerk en mense uit die Douglas-gemeenskap daarvan gehoor het. Só het meer en meer mense betrokke geraak.
“Die een ding van ons Douglas-gemeenskap is dat die mense hier harte van goud het. Dit is mense met warm harte wat gee, en ons het oornag skenkings van klere vir die kinders gekry. Daar is ook vleis vir die kinderhuis ingesamel, en ʼn ton aartappels en ʼn halwe ton kool is ook geskenk.”
Die tak het besluit om ʼn middag by die Jannie Roux-kinderhuis deur te bring. Kinders vanaf 12 jaar oud kon saamgaan en ʼn groot groep ouers asook die pastoor van die FROG-kerk, Mark Southey, het saamgegaan.
“Ons almal was deur hierdie ondervinding geraak,” vertel Karin dankbaar. “Ons het seker so 20 kinders van 12 tot 17 jaar saamgeneem en ek was so trots op hulle. Hulle het uit die bus geklim en dadelik ʼn verskil gemaak. Elke kind en grootmens wat daar was, het met ʼn dankbare hart teruggekom.
“Partykeer dink jy, jy gaan om ʼn verskil te maak, maar ek dink die Jannie Roux-kinderhuis se kinders het meer vir ons beteken as wat ons vir hulle beteken het. Hulle het ons harte vir ewig aangeraak en dit is ʼn ondervinding wat jy nie vir iemand kan vertel nie. Jy moet dit self ervaar.”
Karin vertel dat die kinderhuismatrone, Marelize Hurter, al tien jaar daaraan verbonde is. Daar is ongeveer 87 kinders in die kinderhuis waarvan 12 in die kleuterhuis is.
“Die kinders van die Jannie Roux-kinderhuis is baie mooi gemanierd en baie lief vir tannie Marelize. Die matrone het ʼn paar van ons deur die koshuis geneem om te wys hoe dit daar lyk en ons kon kyk waar daar nog behoeftes is. Alles was mooi skoon en netjies.
“Die matrone het vir ons vertel dat dit die eerste keer in ʼn lang tyd was dat ander kinders tyd saam met die kinderhuiskinders deurgebring het.”
Karin noem dat hierdie projek hulle so begeester het dat hulle dit ʼn instelling wil maak om minstens een keer per jaar daar te gaan kuier.
“Daar is al klaar mense wat klere bymekaarmaak en daar is ook ʼn groep wat daaraan dink om dalk Kersfees daar met kolwyntjies en sokkerballe te gaan kuier.”
Wat haar ook diep geraak het, was die reaksie van die skoolkinders wat die kinderhuis besoek het.
“Hulle het met mekaar oor hul ondervinding gesels, en elkeen se oë was vol trane. Trane van dankbaarheid oor dit wat ons het, want alles is net genade.”