ATKV-jeugtak vier kuns en kultuur tydens kultuurweek
Alles wat kuns, kultuur en taal is, was op die ATKV-jeugtak Hoërskool Douglas Delf Diep se agenda vir hul jaarlikse kultuurweek van 22 tot 26 Augustus. Na twee jaar van stilte weens die COVID-19-pandemie, was vanjaar vir die kultuurdiere uiters spesiaal.
Monique Vorster, takvoog, sê die mikpunt was juis om dit vanjaar groter en beter as ooit tevore te maak. Die doel was om die ATKV se sigbaarheid te bevorder en leerders van sy werksaamhede en projekte bewus te maak. Die tak het gedurende die week die ATKV-pilare, naamlik taal, gemeenskap, kuns en kultuur, en opvoeding gevier. Leerders het elke dag die geleentheid gehad om deel te neem aan verskeie aktiwiteite wat volgens verskillende temas aangebied is.
Vir Taaldag kon leerders soos ’n Afrikaanse idioom aantrek. Hulle moes ook hul idiome in die klas uitbeeld. “Hopelik het elke leerder darem ’n paar nuwe idiome geleer!” sê Monique. Vir “gemeenskapdag” was die tema “trots Suid-Afrikaans”. Onderwysers het ’n groot Suid-Afrikaanse vlag met bordkryt op die netbalbaan geteken en leerders, wat in groepe en verskillende kleure aangetrek was, het ’n landsvlag van mense op die netbalbane gemaak.
Die kuns-en-kultuur-pilaar is gevier met die tema “patrone”. Leerders kon hulself in soveel moontlik verskillende patrone tooi. Hulle het ook kunswerke gemaak wat slegs uit patrone moes bestaan.
Om die opvoedingpilaar te vier, het leerders hul uniforms trots skool toe gedra, ’n formele saalbyeenkoms bygewoon en die dag aan die matrikulante, wat met hul rekordeksamens begin, opgedra.
Alle leerders, van graad R tot graad 11, kon aan die week deelneem deur ’n fooi van R10 te betaal. Die fondse is gebruik om pryse vir oulike en kreatiewe deelname deur die week aan te skaf, asook om ’n paar Meer bek as binnegoed-bordspeletjies vir die Afrikaanse klasse aan te skaf, wat as hulpbronne vir onderwysers dien. Monique sê: “Dit gaan goed met ons tak. Ons wil verseker dat dit wat ons nou bereik het en dit waarvoor ons staan, sal voortleef!”