ATKV-jeugtak Vrede Vonk vier Vrouemaand met tee-en-trourokfunksie
In die spaarkamer se kas hang die rok waarin ek 20 jaar gelede trou aan my man beloof het. Baie keer het ek voor die kas gestaan en wonder of dié rok ooit weer gedra sal word – vir mý pas dit tog lankal nie meer nie. Ek kan dit nie oor my hart kry om die rok te verkoop of weg te gee nie. Dit het soveel sentiment en herinneringe...
Onlangs hoor ek van die ATKV-jeugtak Vrede Vonk in Vrede se tee-en-trourokfunksie. Was ek nader, het ek beslis my rok ook vir die geleentheid geskenk, sodat dit nog net een keer lewe kan kry. Dié funksie is op 25 Augustus gehou om Vrouemaand te vier. Oumas, ma’s, dogters, tannies – alle vroue, oud en jonk – is dié dag met ’n trourokparade gevier. Taklede het 40 rokke by die vroue van Vrede en die omliggende omgewing geleen. Die twee oudste rokke wat op hierdie dag te sien was, dateer onderskeidelik uit 1943 en 1944 (die rokke is slegs uitgestal en daar is nie daarin op die loopplank geparadeer nie). Die oudste rok wat op die loopplank vertoon is, dateer uit 1980.
Takvoog Martinette Muller sê dié funksie was die grootste wat die jeugtak nóg gehou het: “Ons doel was om alle vroue te vier en niemand uit te sluit nie en ons het dit beslis reggekry.” Hulle het beplan om 60 kaartjies te verkoop en gehoop dat 40 mense sou opdaag. “Ons moes uiteindelik kaartjieverkope staak. Ons het ’n opkoms van 100 mense gehad en moes sorg vir ekstra stoele, tafels en koek! Die geleentheid het vroue weer bymekaar gebring,” sê sy.
Aldus Martinette was dit vir die tak belangrik om iets te doen wat nog nie voorheen gedoen is nie en mense op hierdie manier weer bewus te maak van wat die ATKV doen. Sy sê die tee-en-trourokfunksie sal beslis nog lank onthou word. “Die kerktannies gesels nóú nog Sondae ná kerk oor die affêre!” sê Martinette.
Besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/ om jou naaste ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.