ATKV-jeugtak Wilgerlote laat wiel met fietsprojek
Met niks om hulle in die ure ná skool besig te hou nie, het ’n klomp jongmense van Rust-ter-Vaal in die Vaaldriehoek ’n fietsbouprojek begin om só ’n ekstra inkomste te verdien. Lyle le Waal, takvoog van die ATKV-jeugtak Wilgerlote, sê daar is nie buitemuurse aktiwiteite vir die jeug in hulle omgewing nie. “Buiten die feit dat die ouens niks het om buite skoolure te doen nie, wou ons ook ’n manier kry om hulle belangstelling in Afrikaans, hul moedertaal, te behou. Ons het besluit om as ’n groep saam fietse te bou, dan kan ons in Afrikaans mekaar bemoedig, saam grappe maak, pret hê en iets met ons hande doen. Baie van die kinders in ons gemeenskap kom uit moeilike huislike omstandighede. Deur die projek word hulle iets gegee om hul gedagtes op ’n ander manier besig te hou,” sê Lyle.
Die seuns bou fietse met stukke fietsvurke en rame wat hulle by mense kry wat nie meer nut het daarvoor nie. Die opgeboude fietse word meestal verkoop vir sakgeld, om klere en skoene te koop, of om ’n bydrae tot die huishouding te maak. “Baie van hierdie kinders se ouers is werkloos,” sê Lyle.
Volgens Lyle doen sommige kinders ekstra tuinwerk of maak ander se tekkies skoon as hulle geld nodig het om ’n nuwe onderdeel vir ’n fiets aan te koop. Hy sê, “Deur die projek wil ons graag kreatiwiteit, probleemoplossingsvaardighede, meganiese vaardighede, respek vir die self en vir ander, en kultuurbewustheid aanwakker,” sê Lyle. “Ons is ’n karaktervolle groep en die meeste kinders wat aan die projek deelneem, is ’n klomp grapjasse, maar as dit by fietsbou kom, is hulle uiters ernstig en toegewyd!”
“Ons wil graag die kinders weghou van uithangplekke waar hulle aan die donker dinge van die lewe blootgestel word, soos drank en dwelms. Ons wil graag hê dat die ouens wat by ons betrokke raak, kinders van die lig word en positiewe bydraes in hul gemeenskap kan lewer,” sê Lyle. Sy hoop is dat nog meer kinders betrokke sal raak wanneer hulle sien hoe die fietsbougroep mekaar ondersteun, hoeveel pret hulle het, en dat hulle ’n verskil in mekaar se lewens maak.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.