ATKV-jeugtakke beleef merkwaardige groei

Dit maak die hart warm om te sien dat al meer jongmense by hul plaaslike ATKV-jeugtak aansluit en nie net meer oor Afrikaans leer nie, maar ook oor empatie, die helende krag van omgee en kameraderie.
Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke, sê daar is 322 ATKV-takke regoor Suid-Afrika en Namibië en dit is verblydend om te sien hoe die jongmense saam met die struktuur groei.
“Jeugtakke het wonderlike groei ervaar van 87 in 2023 tot 106 in 2024. Vanjaar staan die getal op 128.”
“Vir die ATKV is die bou van ’n suksesvolle Suid-Afrika deel van die DNS van ons bestaansrede, en om te beleef hoe die jeug eienaarskap neem om deel te wees van hierdie positiewe groei en ontwikkeling op ’n kulturele en gemeenskapsvlak, is wonderlik.
“Dis heerlik om die jeug se passie en entoesiasme te beleef. Met ATKV-jeugtakke skep die ATKV ’n platform en ruimte vir ons jongmense om verskilmakers te wees en individue te kweek wat nie net praat nie, maar doen.
“Met deelname aan jeugtakaktiwiteite belê die leerders nie net in hulself nie, maar ook in hul toekoms. Leierskapseienskappe word ontwikkel en afgerond, talente word ontdek, selfvertroue word gebou, nuwe ervarings word gedeel en kultuurvriendskappe word gesmee,” vertel sy.
Die jeugtakke se aktiwiteite en projekte is so eie aan en uniek soos die streek vanwaar hulle kom. Hier is ’n paar wat uitstaan:
Die ATKV-jeugtak Kwaggas van die Hoërskool Outeniqua op George is verlede jaar gestig en het sommer in hul eerste jaar R10 000 vir Kansa ingesamel. Vanjaar het hulle ’n groot Afrikaans-week gehad, wat afgesluit is met ’n sokkie.
Alles is darem nie net skolepret nie – hulle reik ook na hul gemeenskap uit. In Junie vanjaar het ’n verwoestende brand deur Zone 8 in Thembalethu versprei. Altesaam 39 informele huise is verwoes en die inwoners het al hul besittings verloor.
Taklede het klere en skoene, wat vroeër in die kwartaal ingesamel is, na die United Reformed Church in Thembalethu geneem om onder die brandslagoffers te versprei.
Die ATKV-jeugtak Kareedouw het elke jaar ’n weeklange bokpronk-geleentheid waar die gemeenskap kan kom kyk na die skool se debatspan, redenaars, drama en koor. Die week word met ’n gala-aand afgesluit.
Vanjaar het hulle met ’n potgooi begin, en verfraai en verf ook elke jaar twee klaskamers.
ATKV-jeugtak Kultuurkatte, die jeugtak van die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, reël tans ’n boeresportdag by die skool in samewerking met ander ATKV-jeugtakke.
Lydia Jaquire, voorsitter van die jeugtak, vertel: “Dis vir my ongelooflik lekker om saam met ’n gemeenskap van verskilmakers te werk.”
Haar pad met die ATKV het in 2022 by die Hoërskool Hoopstad se ATKV-jeugtak Kameeldoring, onder die leiding van juffrou Judy Viljoen, begin. Sy was vir twee jaar deel van die tak en is in die tweede jaar as voorsitter verkies.
“Daar kom toe in Desember 2023 ’n groot lewensverandering en ek skuif na die Hoërskool Fichardtpark. Hier sluit ek vinnig by ATKV-jeugtak Kultuurkatte aan, en dien ook dadelik as voorsitter. Dit is tans my derde jaar as voorsitter van ’n ATKV-jeugtak.”
Hulle tak is hoofsaaklik gefokus op projekte rakende die skool, soos om blikkieskos in te samel, om die skoolwerkers te bedank met ’n bederfie en die toneelspan te ondersteun.
Hoewel die impak van hierdie lede op hul gemeenskappe omvangryk is, is die persoonlike impak wat hul deelname aan ’n ATKV-jeugtak het dikwels nog groter.
Oor ATKV-jeugtakke sê Lydia: “Om deel te wees van ’n jeugtak is vir my ’n groot eer, want dit verskaf ’n platform waar ek ’n verskil kan maak en moontlik iemand se dag kan ophelder.
“Dit is ook my manier om die ATKV te bedank vir die merkwaardige impak wat hulle op my lewe en toekoms het. Dit is vir my lekker om my medemens te dien. Ek sal ander jongmense definitief aanmoedig om deel te raak van ’n jeugtak, omdat dit jou verantwoordelikheid leer. Dit skep ’n platform om by te dra tot die verbetering van môre, en boonop is dit als lekker!”
Sy sê die impak van die ATKV op haar lewe spreek boekdele.
“Ek het die groot eer gehad om in die kinderteaterstuk Dinosourusse kan nie lees nie te speel en dit het my lewe verander. Ek het opnuut besef ek is gemaak vir, en deur, die kunste en my taal. Die ATKV herinner my daagliks dat ek genoeg is om ’n verskil te maak en dat ek mag en kan speel en kan leef in my taal. Ek is ewig dankbaar vir die ATKV.”
Lydia sê haar gunstelingprojek is “enige projek wat die gemeenskap aanraak en ’n moontlike glimlag op hulle gesig plant. Die wêreld is reeds donker en swaar genoeg, daarom wil ek lig bring waar ek kan.”
Die ATKV-jeugtak Afritasties in Mpumalanga bied vier verskillende projekte per jaar aan.
“Die ATKV-jeugtak van die Hoërskool Bergvlam se ledegetalle het verbasend gegroei,” vertel Elsa van Zyl, die organiseerder.
“Ons het drie jaar gelede ongeveer 20 lede gehad en het tans 90 lede. Ons gunstelingprojekte is ons fliekaand, Bingo-aand, Afrikaans-dag en uitreikaksie na ’n ouetehuis. Hierdie projekte gee leerders die geleentheid om in ons moedertaal te sosialiseer, die taal te waardeer en om uit te reik na ons bejaardes wat baie eensaam is.”
Sy sê haar deelname aan ’n jeugtak het haar laat besef dat haar impak en entoesiasme vir Afrikaans oorgespoel het na die leerders. Selfs die tweedetaalsprekers het aanklank by die aktiwiteite gevind.
“Só het ek leerders se belangstelling in Afrikaans geprikkel. Ek is dankbaar dat die ATKV-bestuur altyd daar is vir raad, hulp en ondersteuning. Ek moedig jongmense aan om by hul plaaslike jeugtak aan te sluit, betrokke te raak en hul uitsig oor Afrikaans te verbreed.”