ATKV kom tot Vrystaat Kunstefees se redding
![](/media/f34b0qca/adobestock_211599241.jpeg?center=0.504313205043132,0.43429109438040581&mode=crop&width=160&height=90&rnd=133149684216770000)
Ná ’n maand wat gekenmerk is deur terugslae en uitdagings, kan die raadslede en bestuur van die Vrystaat Kunstefees ’n sug van verligting slaak, nadat die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) die fees te hulp gesnel het.
Die ATKV het goedgunstiglik aangebied om die uitstaande vergoeding vir kunstenaars van die 2022-fees oor te neem. Hierdie reddingsboei help nie net die kunstenaars wat weens die fees se kontantvloeiprobleem nie betaling ontvang het nie, maar verseker ook die voortbestaan van die fees en sy visie om steeds geleenthede vir kunstenaars te skep.
Die direkteur van die fees, Michael Garbett, sê die fees is verheug en bedank die ATKV vir sy onbaatsugtige en visionêre leierskap. “Die ATKV bevorder al 92 jaar lank die kunste in Suid-Afrika en het ’n lang en hegte verhouding met die fees. Oor die jare heen het ons baie gebaat by die organisasie se proaktiewe bevordering van die kulturele behoeftes van ’n inklusiewe gemeenskap. Die ATKV se aanbod bewys dat dié organisasie verbind is tot volhoubare sosiale en ekonomiese groei en vooruitgang.”
“Die ATKV glo in die Vrystaat Kunstefees en sy missie om ’n platform vir die kunste te skep. Daarom is dit vir ons ’n voorreg om weer – net soos in die verlede – die fees te ondersteun ten einde die voortbestaan van die fees te help verseker,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.
Beide organisasies sien uit na opbouende samewerking in die toekoms, en pak 2023 met hernude vertroue in die fees en gesamentlike, weldeurdagte planne aan.