ATKV-Kopskuif dien skoolgemeenskap tydens pandemie
Een van die grootste kwelpunte in skole is die druk wat die Covid-19-pandemie op die skoolstelsel plaas. Skielik moet die skoolkurrikulum in ’n baie korter tyd ingepas word, kinders word opgedeel en net die helfte van hulle kom op ’n slag skool toe. Boonop moet sosiale afstand ook nog gehandhaaf word.
Dít is maar net van die uitdagings wat leerders en onderwysers te bowe moet kom.
Maar daar is ondersteuning en hulp vir nie net onderwysers nie, maar vir die hele skoolgemeenskap.
Die ATKV se Kopskuifprogram vir hoërskole en laerskole het ten doel om gehalteonderwys in skole te ondersteun en motiveringsessies en werkswinkels aan te bied.
“Die Kopskuifprogram is ’n holistiese skoolbenadering om ten einde ’n positiewe verandering by skole teweeg te bring,” sê André Hendricks, projekorganiseerder en aanbieder van die Kopskuifprogram.
Volgens hom het die program die afgelope vier jaar ’n transformasie ondergaan en word daar nie net meer op die skool se bestuur en beheerliggaam gefokus nie.
“Die program is uitgebrei en word tans vir die hele skoolgemeenskap aangebied.”
Dié program fokus op die onderwysers, ouers, beheerliggaam en selfs die skoonmakers van die skool.
“Ons fokus is die breër gemeenskap van ’n skool. Nie net die onderwysers en die leerders nie, maar elke individu wat tot die skool se daaglikse werkinge bydra.
Van die program se vernaamste doelwitte is om te fokus op die onderwysers se welstand.
“Die ATKV besef die druk waaronder onderwysers geplaas word en die Covid-19-pandemie het net die druk op ons onnies vererger.
“Om hierdie rede bied ons sessies aan om die belangrikheid van selfversorging by onderwysers tuis te bring.”
Die program bied ook ondersteuning en hulp aan die skoolbestuurspan en die skool se beheerliggaam.
“Die program het ten doel om die bestuur te herinner dat effektiewe leer en onderrig in die skool hul vernaamste verantwoordelikheid is.”
“Dit help ook nie daar is dissipline by die skool, maar niks by die huis nie en daarom word ouers ook by die program betrek.
“Ouers word herinner dat hul die primêre opvoeders is en dat die huis die basis vir gesinne wat goed funksioneer vorm.”
Wat dié program so uniek maak is die feit dat niedoserende personeel soos sekretaresse, klerke, skoonmakers en veiligheidswagte ook by die program betrek word.
“Ons wil hê hierdie personeel moet ook besef dat hulle waarde het. Dat hulle rol ook leer en onderrig moontlik maak.”
Laastens word daar op die leerders gefokus.
“Die program se doel met die leerders is om hulle te inspireer, aan te moedig en te bemagtig met lewensvaardighede wat hulle in staat stel om verantwoordelikheid vir hulle eie leergewoontes te neem.”
Volgens André wil hulle alle rolspelers in die skoolstelsel bemagtig.
“Elke leerder, onderwysers, adminklerk en skoonmaker moet besef dat hulle die ratte van die enjin is en dat hulle rol van kardinale belang is. Ons wil as’t ware hê daar moet ’n kopskuif plaasvind.”
Die program word tans in ses provinsies aangebied. Vir navrae oor kursusse in Gauteng, Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga kontak vir André Hendriks by andreh@atkv.org.za. Vir navrae oor kursusse in Noord-Kaap en Wes-Kaap kontak vir Melvina Mason-Engelbrecht by melvinam@atkv.org.za.