ATKV-Kopskuif rig leerders en onnies vir die lewe
ATKV-Kopskuif, met André Hendricks aan die stuur, het ten doel om gehalteonderwys in hoër- en laerskole te ondersteun.
Met hierdie program help die ATKV skole om hul leerders aan te spoor om hul kultuur, kennis en kreatiwiteit tot so ’n mate te ontwikkel dat hulle as toekomstige leiers van Suid-Afrika ’n onmisbare deel van nasiebou en versoening sal wees.
“Ek werk die afgelope 19 jaar in skole – agt daarvan vir ’n organisasie genaamd die Matthew Goniwe School of Leadership and Governance – en hierdie is my elfde jaar by die ATKV,” sê André.
“Ek was ook vir tien jaar ’n wiskundeonderwyser vir hoërskoolleerders. My betrokkenheid in en by skole het my die geleentheid gegun om die hartklop van skole te leer ken en verstaan en daarom is ATKV-Kopskuif so uniek.”
André glo onomwonde dat onderwys almal se verantwoordelikheid is.
“Daar word in veral die skole waar ek werksaam was en steeds is oor die algemeen geglo dat die onderrig van ons kinders slegs die onderwyser se verantwoordelikheid is,” sê hy.
“Aktiewe ouerbetrokkenheid is een van ons groot uitdagings. Die kopskuif wat ouers en diegene wat verbonde is aan skole moet maak, is, dis goed om geïnteresseerd te wees, dis goed om ingelig te wees, maar dis beter om aktief betrokke te raak. Só kan ons positiewe veranderinge in ons skole bewerkstellig.”
André sê die doel van ATKV-Kopskuif is om daadwerklik ondersteuning te bied.
“ATKV-Kopskuif vir hoër- en laerskole het ten doel om gehalteonderwys te ondersteun deur die aanbied van motiveringsessies en werkswinkels. Die ATKV wil nie van die kantlyn af voorstelle maak, kommentaar lewer, of selfs kritiseer nie – ons wil aktief ’n rol speel om gehalteonderwys te ondersteun.”
André onderskei tussen leerders en volwassenes wat betref die vaardighede waarmee die Kopskuifprogram die mense wat dit bywoon, toerus.
“Laat ons met skoolbestuurspanne begin – ek verwys dikwels na hulle as die ‘enjin’ van die skool. Deelnemers word herinner aan die belangrikheid van doeltreffende bestuur binne skole. Die departement van basiese onderwys (DBO) bied baie min leiding en opleiding aan bestuurspanne en dis een van die redes waarom die ATKV opleiding aanbied. Die DBO fokus hoofsaaklik op die kurrikulum en dis waar dit eindig. Die werkswinkel het ten doel om skoolbestuurspanne op te lei wat betref die belangrike rol wat hulle binne die skoolgemeenskap moet vervul.
“Dan, ons onderwysers. Ons onderwysers is uitgeput, uitgebrand en moedeloos as gevolg van die hoë eise wat aan hulle gestel word. Hier word gefokus om onderwysers te motiveer ten opsigte van die belangrikheid van hul rol, asook hul verantwoordelikheid in die vorming van leerders – maar ook die belangrikheid van ’n gebalanseerde lewenstyl. Daar word ook sessies aangebied oor klaskamerbestuur; dit is belangrik om jou vakinhoud te ken, maar ewe belangrik om te weet waarom en vir wie jy onderrig gee.
“Dan, die nie-doserende personeel. Hierdie is die groep wat dikwels afgeskeep word en min tot geen opleiding ontvang nie. Die ATKV is die enigste organisasie wat die belangrike rol wat nie-doserende en administratiewe personeel in skole vervul, raaksien. Daarom bied ons ook opleiding aan hulle met die tema ‘Ek dra by tot doeltreffende leer en onderrig’.
“Laastens, ons graad 11- en graad 12-leerders. Die breë doelwit met hierdie motiveringsessies is om leerders aan te moedig dat hulle, ongeag hul omstandighede, suksesvol kan wees. Die ander doelwit is om die leerders sodanig te inspireer, aan te moedig en te bemagtig met lewensvaardighede dat hulle in staat sal wees om verantwoordelikheid vir hul eie leergewoontes te aanvaar en sodoende hul finale skooljare suksesvol kan aflê.”
André sê hy doen niks lukraak nie.
“Ek berei letterlik vir elke sessie voor. Elke skool is uniek en ek besef dat elkeen ’n eie, unieke benadering benodig.
“My sessies vind normaalweg in die middae plaas en omdat ek self ’n onderwyser was, besef ek dat onderwysers ná ’n lang dag uitgeput is en die nie juis ‘lus’ is vir ’n vervelige aanbieding nie. Ek daag vroeg met die nodige energie en entoesiasme by die skool op en dit is aansteeklik.
“My sessies word gekenmerk deur die feit dat ek nie net waardevolle wenke met onderwysers deel nie, maar hulle ook laat lag en sing – lag is immers die beste medisyne.”
André sê hy deel graag twee lesse in sy aanbiedinge.
“Eerstens, alles wat ons het, is geleen. Tweedens, leef voluit,” sê hy.
“Ek het destyds by Tuks gewerk en ook ’n verpakkingsbesigheid besit. Dit het baie goed gegaan en ek het selfs in die buiteland sake gedoen. My seun het my op ’n dag gevra wanneer ek een van sy sokkerwedstryde gaan bywoon, want my vrou was altyd die een wat gaan kyk het hoe hy speel.
“Ek het daardie aand diep gesit en dink en geworstel met die vraag: Wat is sukses werklik? Dit en ’n paar ander dinge het my laat besef wat belangrik is en ek het die sakeonderneming laat vaar. Die kopskuif was, alles wat ons het, is geleen.
“Nog ’n groot gebeurtenis was toe my liewe vrou, ’n hoërskoolonderwyseres, in 2013 met kanker gediagnoseer is. Ten spyte van haar stryd het sy haar pligte as vrou, ma, onderwyser en gemeentelid met soveel ywer nagekom. Sy het my een groot les geleer: Dit is nie wat met jou gebeur nie – dit is hoe jy reageer wat belangrik. Dus, leef voluit!”
André het goeie raad vir mense wat maklik in ou denke vasval en sukkel om veerkragtig te wees.
“Verandering is onvermydelik en onvoorsiene gebeurtenisse tref almal.
“Ons leef in ’n voortdurend veranderende omgewing en ons almal moet kies om aan te pas of om dieselfde te bly. Hier dink ek onmiddellik aan die mag van die gewoonte. Die meeste mense floreer egter wanneer hulle ’n roetine het, terwyl verandering – hetsy dit goed of sleg is – vir hulle moeilik is om te hanteer.
“Ou gewoontes is immers moeilik om te breek omdat dit al so in jou brein ingewerk is. As mense is ons geneig om die maklike pad of maklike uitweg te kies – in Engels verwys ek dikwels na die ‘comfort zone’.
“Veerkragtigheid is die vermoë om te herstel van ’n slegte situasie of om aan te pas by verandering. Mense wat veerkragtig is, of hulle nie gou laat onderkry nie, kan nuwe omstandighede nie net verduur nie, maar kan ook na iets kyk wat lyk soos ’n struikelblok en die positiewe daarin raaksien.”
Kontak André Hendricks by andreh@atkv.org.za of 082 411 1333 vir meer inligting oor ATKV-Kopskuif.