ATKV-Kopskuif: Skoolhoofde leer oor selfsorg
Die hoof van ’n skool is die persoon by wie leerders, onderwysers en ouers draai as daar ’n krisis is. ’n Skoolhoof is te alle tye aan die stuur van die skip en is vir baie ’n steunpilaar en leier – maar selfs hoofde is maar net vlees en bloed en moet dus ook na hul eie welstand omsien.
Daarom het ATKV-Kopskuif ’n motiverings-en-inligtingsessie vir sowat 18 hoofde in die Wes-Kaap aangebied waartydens hulle geleer het hoe om na hulself om te sien en steeds effektief leiding te neem.
Die meeste van die hoofde wat die sessie bygewoon het, was van skole in en om Stellenbosch.
“Almal kom na die hoof toe vir raad. Die hoof moet alles wees vir almal. Hy kry druk van die departement af. Onderwysers, leerders en die gemeenskap draai na hom toe vir raad. Dit plaas geweldige druk op een mens,” sê André Hendricks, projekorganiseerder van ATKV-Kopskuif.
André sê daar was tydens die sessie twee belangrike vrae wat aangespreek was: “As almal iets van die hoof eis, wat bly dan oor vir sy gesin, en belangriker nog, wat bly oor vir die hoof self?”
Tydens die sessie het die hoofde geleer hoe om na hulself om te sien deur seker te maak dat hulle kyk na hulle psigiese en fisiese welstand.
André sê daar is sewe stappe wat hoofde kan volg om seker te maak hulle pas selfsorg toe.
“Jy moet grense kan stel. Jy kan nie alles vir almal wees nie. Leer om nee te sê. Rus, slaap en eet genoeg. Sorg dat jy genoeg oefening kry en neem genoeg tyd om te rus. Doen diep asemhalingstegnieke as jy angstig voel. Drink genoeg water – ten minste agt glase ’n dag. Vra vir hulp en leer om te delegeer eerder as om alles self te wil doen.”
Hy meen hoofde se eie welstand is baie soos om ’n suurstofmasker op jou gesig te sit as jy op ’n vliegtuig is en daar is ’n noodgeval.
“Daar word altyd gesê jy moet eers die masker oor jou eie mond en neus trek voordat jy ander help – net so moet hoofde ook eers na hulself omsien voordat hulle ander kan help.”
Ferrentia September, die hoof van die Wes-Eind Primêre Skool in Franschhoek, meen die sessie was baie inspirerend, informeel en pret.
“Die aanbieder was entoesiasties en het hom goed van sy taak gekwyt. Ek het elke oomblik van die sessie geniet.”
Sy sê die sessie het vir haar baie gereedskap gegee om vorentoe as hoof te gebruik.
“Wat uitgestaan het, was dat hoofde so min tyd vir hulself maak en beslis moet leer hoe om te ontspan en beter na hul welstand te kyk,” vertel sy.
“Ek sal definitief meer selfsorg toepas sonder om skuldig te voel, asook meer tyd saam met my familie deurbring.”