ATKV-kultuurvennote kom al lang pad

Die ATKV se 95ste verjaardag is voorwaar ’n mylpaal wat rede tot feesvier bied. Hierdie organisasie bereik groot hoogtes saam met verskeie taal- en kultuurvennote regoor Suid-Afrika en Namibië om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en saam ’n beter, inklusiewe Suid-Afrika te bou.
Die bestuurders van die land se voorste kunstefeeste, kulturele en taalinstellings, is dit almal eens dat die ATKV as húl kultuurvennoot beslis ’n groot impak maak op jongmense se lewens, hoop skep en belê in die toekoms van ’n harmonieuse, multikulturele land.
Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), sê die ATKV bevorder taal, kultuur en gemeenskapsontwikkeling.
“Die ATKV is een van VivA se stigtersmaatskappye en stap nou al die pad saam met VivA vir die afgelope tien jaar. Die ATKV stel VivA in staat om kreatiewe tegnologiese produkte vir Afrikaans te ontwikkel, wat plaaslik en internasionaal gebruik word.”
Sy glo die ATKV het die unieke vermoë om gemeenskappe op grondvlak te bereik met volhoubare en inklusiewe taal- en kultuurprojekte.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, sê hy dink die samewerking tussen die ATKV en KKNK is ’n wonderlike voorbeeld van hoe vennote saam kan werk om met gedeelde hulpbronne, kapasiteit en vaardighede ’n verskil in gemeenskappe te maak.
Die ATKV is reeds van die eerste KKNK in 1995 ’n lojale vennoot van die fees. Beide organisasies stel dit ten doel om ’n verskil deur kuns, kultuur en Afrikaans in Suid-Afrika te maak.
“Die ATKV het die afgelope dekades nie net ’n sleutelrol in die bevordering van taal en kultuur gespeel nie, maar deur al die ATKV se aktiwiteite ook ’n belangrike rol in samehorigheid gespeel,” sê hy.
Hugo se wens vir die ATKV is dat die organisasie van krag tot krag sal gaan, voortgaan met wat hulle doen en bou op dit wat reeds daar is, want die ATKV maak ’n verskil in Suid-Afrika.
Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap-teater in Kaapstad, meen dat die ATKV ’n pilaar van kulturele bewaring en gemeenskapsontwikkeling is.
“In ’n tyd waar identiteit en taal dikwels onder druk is, bied die ATKV ’n veilige tuiste vir Afrikaanssprekendes van alle agtergronde. Hulle werk dra by tot nasiebou, versoening en die bevordering van kreatiwiteit en kennis – alles noodsaaklik vir ’n inklusiewe en vooruitstrewende Suid-Afrika,” sê sy.
Sy glo die ATKV se sterkpunt lê in sy vermoë om kultuur en taal op ’n toeganklike, lewendige en inklusiewe manier te bevorder.
Haar wens vir die volgende 95 jaar is dat die ATKV sal voortgaan om ’n ligdraer vir Afrikaans te wees.
“Ek hoop die ATKV sal aanhou om nuwe generasies te bemagtig, grense te verskuif en Afrikaans se plek in die wêreld te bevestig.”
Jaco van der Walt, senior bestuurder: NWU Kunste (studentelewe), sê die ATKV is al vir baie jare betrokke by die studentelewe van die Noordwes-Universiteit en het al verskeie kere as hoof- of prysborg opgetree om ekstra glans aan ’n geleentheid op kampus te gee.
“Die ATKV speel ’n baie groot rol in Suid-Afrika om platforms vir kuns en kultuur te skep en te onderhou en het ’n groot impak om talent in die kunste te ontwikkel,” vertel hy.
Jaco sê voorts dit is juis projekte soos ATKV-Tienertoneel, -Redenaars en -Applous wat van onskatbare waarde vir tersiêre instellings is.
“Die ATKV is al vir 95 jaar besig om hoop te skep en is dit belangrik dat hulle vir die volgende 95 jaar dit asseblief moet aanhou doen,” sluit hy af.
Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê sy is verheug om te kan deel in die ATKV se 95ste verjaardag.
“Dit is die Suidoosterfees se wens en wete dat die ATKV vir meer as nog 95 jaar van krag tot krag sal gaan en Suid-Afrika en sy mense sal aanhou dien op ’n verantwoordelike, inklusiewe manier.
“Niemand het ’n groter passie vir Afrikaans as die ATKV se mense nie. Niemand is so oopkop, hardwerkend en ontvanklik vir idees soos hulle nie. Soveel kundigheid en vernuf onder een sambreel kry jy selde!”
“’n Mens moet ook nie vergeet dat die organisasie ’n uitsonderlike rol gespeel het in die Afrikaanse uitgewersbedryf nie. Lapa-uitgewers is een van die ATKV se grootste besigheidsprestasies. Hierdie onderneming is meer as ’n veer in die organisasie se spreekwoordelike hoed – dit is soos ’n boeket van pouvere wat net-net in ’n mens se arms pas,” vertel sy.
“Sonder die ondersteuning, befondsing en samewerking van die ATKV, sou die Suidoosterfees se aanbod veel kariger gewees het. Die ATKV deel die fees se visie om alle mense van Suid-Afrika deur kuns en kultuur bymekaar te bring.”
Michael Garbett, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, het self volsirkel met die ATKV gekom. Hy het aan ATKV-Tienertoneel deelgeneem, wat ’n ongelooflike ervaring vir hom was.
“Die inspirasie, kreatiewe ruimte en blootstelling aan ander se talent het my as kunstenaar en mens laat groei. Te danke aan die ATKV het ek ’n stem gekry en deel geword van iets groter. Dis ’n geleentheid wat ek vir altyd sal koester.”
Sy wense vir die ATKV se volgende 95 jaar is dat dit gekenmerk word deur groei, gemeenskap en genade sodat Afrikaans nie net oorleef nie, maar floreer.
“Deur die ATKV se betrokkenheid by die Vrystaat Kunstefees verseker hulle dat die fees verskillende gemeenskappe en generasies betrek en dat mense saam die waarde van kultuur en taal kan beleef.”
Michael sluit af en sê die ATKV gee mense ’n gevoel van behoort en trots.
Astrid de Vos, uitvoerende trustee van die Dagbreek Trust (DT), sê die ATKV en die DT se verbintenis strek al langer as 16 jaar.
“As prominente projekvennoot van die DT, versterk en ondersteun die ATKV die DT se teenwoordigheid in die Afrikaanse landskap en is die ATKV ook deel van die kosbare netwerk van projekvennote wat Afrikaans se toekoms verseker.”
Astrid sê, te danke aan die groot voetspoor van die ATKV, bereik die organisasie ’n groot aantal mense uit ’n verskeidenheid sosiokulturele omgewings.
“Afrikaans en Afrikaanse kultuur bereik gevolglik nie net eerstetaalsprekers van Afrikaans nie, maar ook ander taalgroepe wat Afrikaans as tweede en selfs derde taal gebruik. Min organisasies kan hulle hierop roem.”
Sy glo die ATKV se unieke sterkpunt is dat dit taal- en kultuursake volgens ’n sakemodel bedryf wat oor dekades deur toegewyde, kundige personeel verfyn is en gefokus geraak het op daardie aspekte wat werklik saak maak en waarde toevoeg.
“Ek wens die ATKV hartlik geluk met hul 95ste bestaansjaar en hoop dat hulle sal voortgaan om die pasaangeërs in die taal- en kultuuromgewing in Suid-Afrika te wees.”
Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Toyota Woordfees, sê die ATKV is al vanaf 2010 ’n borg van die fees en het ook hul susterprojek, Woorde Open Wêrelde (WOW), sedertdien ondersteun. In dié tyd het die ATKV veral bygedra tot die skrywersprogram en die vestiging van ’n kwaliteit-boekwinkel by die fees.
“Die ATKV bring struktuur na kultuuraktiwiteite. Ons is as taalgemeenskap bevoorreg om ’n organisasie te hê wat soveel belê in die ontwikkeling van vaardighede en talent,” sê sy.
Sy voeg by dat die organisasie se projekte geoliede masjiene is, danksy ’n goeie balans met bedryfskundigheid van buite, professionele en bekwame personeel, sowel as passie van vrywilligers en lede in die aanbied van hul projekte.
Haar wens vir die komende eeu is dat die ATKV “verder van krag tot krag (sal) gaan en hom veral beywer vir die integrasie van ons taalgemeenskap.”