ATKV-lid bekoor met debuutjeugroman

Ons het al almal ’n Lotto-kaartjie gekoop en gedroom hoe ons die boerpot wen, ons skuld delg, dalk ’n huis koop en ’n eilandvakansie hou.
Min van ons is dit beskore om miljoene te wen. Inteendeel, die kans is groter dat jy deur weerlig getref sal word.
Maar, in Tertius Janse van Rensburg se debuutjeugroman, Wat Werner doen met sy drie miljoen, kry drie tienerseuns dit wraggies reg om die Lotto te wen en kom hulle voor ’n kruispad te staan.
Tertius van ATKV-tak Port Elizabeth het in 2019 aan LAPA se jeugromankompetisie deelgeneem en sy boek is in Maart vanjaar uitgegee.
Hy sê sy eerste poging was ’n donker komedie, maar hy het toe besluit hy wil eerder ’n jeugroman aanpak.
“Om die verhaal as ’n jeugroman te skryf het net meer sin gemaak. Daar was baie struikelblokke wat oorkom moes word en baie ompaaie wat gevolg moes word.”
In Wat Werner doen met sy drie miljoen besluit Werner en sy twee vriende om Lotto te speel en vat hulle Werner se oupa, wat aan Alzheimers ly, om die kaartjies vir hulle te koop.
Die drie tieners wen sowaar as wragtig drie miljoen rand, maar Werner voel te sleg om die geld op te eis ... Maar dan verloor sy ma haar werk en moet hulle ’n plan beraam om die geld aan haar te besorg sonder dat sy snuf in die neus kry.
“Ek moet bieg; ek het nog nooit ’n Lotto-kaartjie gekoop nie, maar dit beteken nie ek het al, soos menige ander, gedroom oor wat ek sal doen as miljoene rande skielik in my skoot moet val nie.”
Tertius was van beroep ’n siviele ingenieur en het nooit gedink hy sal ’n boek publiseer nie.
“Vir bykans die helfte van my lewe het ek geglo dat ek linkerbrein-dominant was. Versot op Wiskunde maar so-so as dit by tale en skryfwerk kom. Vir vyftien jaar het ek my passie as siviele ingenieur uitgeleef, waar skryf beperk was tot tegniese verslae vol syfers en somme.”
Hy het egter as besproeiingsboer in die Oos-Kaap besluit om sy hand te waag aan ’n kortverhaal en het Pampoendromer geskryf.
Die kortverhaal is deur Huisgenoot aanvaar en het hy besluit om die jeugroman aan te pak.
“Ná my manuskrip van die jeugroman by verskeie uitgewers gedraai het, skryf ek dit in 2019 vir LAPA se Jeugromankompetisie in en ontvang die toekenning as beste debuutskrywer.”
Hy sê hy is verlig en dankbaar dat sy boek aanvaar is en dat hy aangewys is as beste debuutskrywer.
“Ek is verlig dat al my harde werk nie tevergeefs was nie en dankbaar dat iemand genoeg waarde in my werk gesien het vir die toekenning.”
Volgens hom is daar nog baie ink in sy pen.
“Ek sal graag ’n kortverhaalbundel en nog so paar romans wil aanpak. Ek skryf omdat dit vir my lekker is en sodat lesers my skryfwerk kan geniet.”