ATKV ondersteun Newcastle se Winterfees

Afrikaners is mos plesierig, en wie hou nou nie daarvan om aan pannekoek te smul of teaterproduksies by te woon nie?
Vir baie van ons in feeste soos die KKNK, Woordfees of Aardklop ’n hoogtepunt op ons kalenders, maar was jy al by die Kersiefees op Ficksburg of die Hantam Vleisfees?
Ons land het ’n groot verskeidenheid van streeksfeeste en een daarvan is die Newcastle Winterfees wat van 28 tot 30 April gehou word. Die ATKV is ’n trotse borg van die galery wat op die fees gaan wees, wat dan ook as die ATKV-Galery gaan bekend staan.
“Daar is verskuilde talente en feeste op die platteland waarvan mense nie bewus is nie,” sê Coenraad van Rensburg, ATKV-streeksbestuurder.
“By die galery sal feesgangers die geleentheid kry om kuns te besigtig van talentvolle kunstenaars, hoofsaaklik van die noorde van KwaZulu-Natal. Minder bekende kunstenaars gaan ook hul werk uitstal – baie kunstenaars wat op die platteland woon kry nie noodwendig die blootstelling wat hulle verdien nie en hierdie fees is ’n ideale platform vir hulle,” sê Coenraad.
Op die fees gaan daar iets vir almal wees. “Daar is ’n koekkompetisie waarin bakkers hul vernuf kan wys en vir diegene met groen vingers ’n blommerangskikkingskompetisie. Kunsliefhebbers sal kan borde verf en kerse doop en daar gaan ook ’n skilderkompetisie wees met die tema “winter” waaraan plaaslike kunstenaars gaan deelneem. Lede van die publiek sal aan ’n abstrakte gemeenskapskunswerk kan deelneem. Daar gaan beoordelaars wees en daar is pryse, geborg deur die ATKV, op die spel.”
Volgens Coenraad is dit belangrik vir die ATKV om sigbaar te wees – nie net by groot feeste nie, maar ook by streeksfeeste.
“Hierdie feeste is vir baie mense in die gemeenskap en omliggende gebiede ’n hoogtepunt en ons moet hierdie feeste ook ondersteun en bevorder.”
Klik hier vir meer inligting.