ATKV ondersteun Reza de Wet-Tienertoneelfees

Die ATKV is bekend vir sy betrokkenheid by tienertoneel waardeur ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders gekweek word. Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, sê: “Die ATKV heg groot waarde aan strategiese vennootskappe met diegene wat tot Afrikaans en toneelspel se voordeel dink, belê, werk en droom. Teater vorm ’n spieëlbeeld van wat in ’n land en in ’n gemeenskap plaasvind, en andersyds omdat dit konkreet en visueel ewige waarhede vergestalt, is die voortbestaan van die teater baie belangrik.”
Om dié rede is die ATKV betrokke by die Reza de Wet-Tienertoneelfees wat van 10 tot 12 Julie in Bloemfontein deur die Sekondêre Meisieskool Oranje aangebied word. “Platforms soos dié tienertoneelfees help om die bedryf met nuwe talent te voed. Daarom is dit belangrik vir die ATKV om toneelfeeste soos dié te ondersteun. Reza de Wet was ’n uitstekende teaterwerker, akteur, lektor, regisseur en dramaturg. Die ATKV eer haar nalatenskap deur ons betrokkenheid by die toneelfees,” sê Gerrie.
Dit is die veertiende jaar wat die tienertoneelfees aangebied word. Volgens Ruan Bruwer, bemarker van die Sekondêre Meisieskool Oranje, is daar drama, komedie en selfs ’n rillerkomedie op die spyskaart van dié jaar se ATKV Reza de Wet-Tienertoneelfees. Die ATKV is dié jaar se titelborg.
Vanjaar se nege deelnemende skole is die Hoërskole Martin Oosthuizen, Wesvalia, Hugenote, Upington, Noordheuwel, Fichardtpark, Selborne College, Helpmekaar Kollege en die gasheerskool Oranje.
Verskeie bekendes in die Suid-Afrikaanse toneelwêreld soos Schalk Bezuidenhout, Karli Heine, Robert Hindley en Paul Loots het hulle talente hier geslyp. Bezuidenhout is as 15-jarige in 2008 as die beste akteur gekroon. Twee kundige beoordelaars, Schoemé Steenkamp (wat self as ’n Oranje-leerder in 2009 se fees gespeel het) en Walter Strydom, tree as beoordelaars op en sal ná elke opvoering repliek lewer.
Volgens Ruan bied die fees ook ’n platform vir skrywers. ’n Nuutgeskrewe teks is ’n voorvereiste en ’n prys word vir die beste teks toegeken. Dit is deur Chris Vorster en Karen Combrinck beoordeel. Nico Scheepers (’n Einde − Helpmekaar Kollege) en Ilne Fourie (Mansgenoeg − Oranje) is twee van die bekende toneelskrywers wie se werk opgevoer word. Scheepers stap al ’n lang pad met die fees.
Behalwe toneelspeel gaan die sowat 110 leerders ook twee werksessies (in fisiese teater en improvisasie) bywoon. Mis, deur De Wet, is onlangs verfilm en die leerders gaan die eerste aand na die rolprent op ’n grootskerm kyk.
Die fees is na De Wet (1952-2012), ’n oudleerder van Oranje, vernoem. Sy was een van Suid-Afrika se belangrikste en invloedrykste toneelskrywers. De Wet was ’n dramaturg, aktrise, regisseur en dramadosent en die land se mees bekroonde dramaturg. Daarbenewens was sy die eerste dramaturg aan wie die Hertzogprys twee keer ná mekaar toegeken is.
Volgens die gerekende teaterhistorikus, prof. Temple Hauptfleisch, kan De Wet as die belangrikste vroulike dramaturg nóg in Afrikaans beskou word én een van die wêreld se bestes van die vorige eeu.