ATKV ondersteun Suidoosterfees en KKNK

Dit is die ATKV se missie om pro-aktief en op ’n volhoubare wyse om te sien na die diverse taal- en kultuurbehoeftes van die Afrikaanssprekende gemeenskap, en kunstefeeste bied die ideale platform hiervoor.
Twee sulke feeste waarvoor feeskatte dié jaar hul lippe afgelek het, is die pasafgelope KKNK en die Suidoosterfees wat van 26 April tot 1 Mei plaasvind. Beide dié feeste word deur die ATKV ondersteun. Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, sê, “Daar is min plekke waar die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit só gedy soos op die verhoog, in diep filosofiese gesprekke oor boeke, of selfs net wanneer ’n mens tussen stalletjies dwaal. Die ATKV wil elke mens wat vanjaar feeste moontlik maak, eer: die kunstenaar wat uiteindelik weer die verhoogligte op sy gesig voel brand; die persoon wat agter die verhoog rondskarrel om alles vlot te laat verloop; die stalletjie-eienaar wat sy produkte inpak en uitpak; die skoonmakers, sekuriteitswagte, planmakers en feespersoneel.”
ATKV-Produksies by die Suidoosterfees
Met woorde soos kerse
Ondersteun deur NATi, BASA, die ATKV, LitNet, Het Jan Marais Nationale Fonds en die LW Hiemstra Trust
Met Antjie Krog en verskeie akteurs
Een van Antjie Krog se grootste geskenke aan Suid-Afrika is haar vertalings van gedigte uit verskeie inheemse tale in Afrikaans. Vandag klink die gedigte in hul oorsponklike taal op saam met Antjie se Afrikaans, voorgelees deur van die voorste kunstenaars van ons tyd. Kom geniet en waardeer die bekoring van poësie uit eie bodem.
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
Stemme
Ondersteun deur LitNet, NATi, die ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds en die LW Hiemstra Trust
Met verskeie akteurs
Twintig akteurs, tien regisseurs, tien skrywers – spesiaal vir die 20ste Suidoosterfees. Kort, kragtige dialoë vir daardie oomblikke van sielsverkwikking tussen jou feesproduksies. Gratis elke dag!
Jakes Gerwel-gesprekke
Aangebied deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV
Die Jakes Gerwel-gespreksreeks word ondersteun deur NB-Uitgewers, Jonathan Ball, Penguin Random House SA, die Afrikaanse Taalraad en die Vriende van Afrikaans.
Alle gesprekke is gratis, maar bespreek jou sitplek by Theo Kemp: theo@jgf.org.za.
In my wildste drome
Aangebied deur Vriende van Afrikaans
Met René Arendse, Lyntjie Jaars, Julian Jansen en Nadine Petrick
Verskeie bekendes gesels oor die paaie wat hulle moes stap om uit te kom by hulle droomwerke, of wat hulle in hul wildste drome gedink het nie moontlik is nie. In die gees van Vryheidsdag gesels hulle ook oor hoe vry Afrikaans werklik is. Is die bagasie van die verlede afgeskud? Kan hulle skryf en praat soos hulle gebek is?
ATKV-Jeugteater
AKTV-Tienertoneel
Die susterskap
Aangebied deur die ATKV en Hoërskool Paarl Vallei
Met Talia Roux, Zané Habig, Gina Tough, Doline Havinga, Roslin Spires, Miquette Eloff, Unathi Mankahla, Nina Strydom, Danielle Labuschagne, Kyla Steyn, Anja de Villiers, Anneh Mitrovitch, Casey Holmes en Angelique Jonker
’n Acapella-groep van Hoёr Meisieskool Soggenhof is op pad terug huis toe nadat hulle ’n nasionale sangkompetisie gewen het. Twaalf meisies, een bus. Wat begin as ’n opwindende trippie, ontaard vinnig in ’n geheimbelaaide tragedie. Hierdie sielkundige riller laat jou wonder oor die stelsel waarin skoliere vasgevang is. By ATKV-Tienertoneel 2022 het Die susterskap onder die vyf beste produksies geëindig en dit is as beste produksie benoem by die 2022 Fraserburg Logan Toneelfees.
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
mAaNmAaTs
Aangebied deur die ATKV en Hoërskool Paarl Vallei
Met Paul Strydom, Aden Gardiner, Cleo Padayachee, Njabulo Ncapai, Bea-mari Keuzenkamp, Talia Roux, Bongulwethu Bawuti, Francois Retief, Kyla Steyn, Jaden Arends, Anieke Douglas, Juanne van Wyk, Leandre Hart, Nelis van Geest, Casey Holmes, Steven Manunkha, Roxy Edwards, Lauren-Lee Fikkies, Haylee Meyer, Gina Tough, Angelique Jonker, Shane Cloete, Dean Bulfon, Junior Ruzvidzo, Celeste Grobler, Alicia Ferreira, Phoebe Cloete, Joshou Simone, Qhawekazi Samson, Miquette Eloff en Rebecca Riffel
Eendag lank, lank gelede, toe Hompie Kedompie nog heel was en een plus een altyd twee, het ek geglo ons kan vlieg en daar’s ’n man in die maan. En as ek groot is, sal ’n prins my kom haal. Maar toe val Hompie van die muur af en die prins verdwaal, die tandemuis trek weg en te veel koek maak mens naar. Maar al dryf my drome weg, hou ek my oog op die maan, want dalk, eendag as ek groot is, sal ek ewige geluk hier op aarde vind …
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
’n Einde
Aangebied deur die ATKV en Helpmekaar Kollege
Met Zonika de Vries en Vian Singleton
Dui stiltes ’n einde aan? Of is ’n einde dalk die begin van iets nuuts en beters? Gestroop van alle pretensie, kaal voor jou uitgetrek – sodat jy in my kop kan klim en die stiltes beter sal verstaan …
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
Wat die water weet
Aangebied deur die ATKV en Hoërskool Jan van Riebeeck
Met Caylee Ray, Stella Malan, Darren Cloete, Clifton Wagenstroom, Aimee Els, Andoné Strydom, Annie Basson, Cameron Carelse, Karla Luyt, Lenique Isaacs en Toby de Ruiter
Kaapstad gaan teen 2032 onder water wees as daar niks aan die klimaatskrisis gedoen word nie. Een aand wag vier vriende by ’n busstop langs die see. Saam met plastieksakke spoel daar hartsgeheime uit. En soos dit later word, word iets binne die water wakker. Ook roer iets onrustig binne die jongmense. Soos wat die see woed, worstel die tieners oor dit wat die water self lankal reeds weet.
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
ATKV-Tienertoneel-pakket
Aanbieders: Christo Davids en Wessel Pretorius
Die Suidoosterfees en die ATKV bied ’n fantastiese pakket vir onderwysers en regisseurs van tienertoneel aan. Die pakket sluit die volgende uitstekende geleenthede in: kaartjies vir vier ATKV-Tienertoneel-wenstukke by die fees, verskeie teaterproduksies op die feesprogram, asook werkswinkels. Vir die spesiale afslagprys van R1 200 kan deelnemers vir drie dae lank ’n opwindende program meemaak. ’n Pakket met verblyf is ook beskikbaar. Kontak vir Miandra Hayward by Miandra.Hayward@media24.com om te bespreek.
Visuele Kuns
Beeldspraak
In samewerking met die ATKV
Kurator: André Badenhorst
Beeldspraak, met trots aangebied deur Taalgenoot en André Badenhorst, moet beslís nie misgeloop word nie. Met foto’s van mense soos Neil Sandilands, Gérard Rudolf en wyle Shaleen Surtie-Richards gaan feesgangers opnuut verstaan waarom dié bekroonde tydskrif dit regkry om met puik fotografie stories op ’n unieke manier te vertel. Taalgenoot se oorspronklike voorbladfoto’s word uitgestal, asook splinternuwe materiaal.
Filmverse
In samewerking met die ATKV
Kurator: Fopspeen Moving Pictures
’n Keur van 12 Afrikaanse gedigte in ’n “visuele bloemlesing” waarin woord en beeld in gesprek tree. ’n Animasiefilm van elke gedig word gekomplementeer met vier alternatiewe klankbane: in Afrikaans, Engels, isiZulu en SeSotho. ’n Lieflike geskenk vir liefhebbers van Afrikaanse poësie, asook ’n waardevolle hulpmiddel vir skoliere en studente. DVD’s beskikbaar.
Musiek
Konsert van hoop
In samewerking met Artscape en die ATKV
Met Vicky Sampson, Brandon October, Louis Loock, Anna Davel en wenners van Suidoosterfees-Talentsoekkompetisie, ATKV-Crescendo finaliste en Artscape-vennote
27 April is Vryheidsdag – ’n nasionale geleentheid, simbolies van hoop vir alle Suid-Afrikaners. Vanjaar vier Suidoosterfees hierdie spesiale dag met ’n skouspelagtige uitvoering van ligte en klassieke musiek, opera en dans, aangebied deur Artscape se top uitvoerende kunstenaars en van die land se gewildste sangers. Kom vier ons land en sy talent saam soos net die Kaap en sy mense kan!
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
ATKV-Koorgala
Ondersteun deur die ATKV
Met Zanne Stapelberg (sopraan), Brittany Hope Smith (sopraan), Conroy Scott (bariton), Nina Schumann (klavier), Megan-Geoffrey Prins (klavier), Petrus de Beer (viool), musiekvriende van die Hessequa-streek en wenkore van die Koorkompetisie, asook ’n massakoor onder leiding van Niël Rademan
Die ATKV-Koorgala is altyd ’n hoogtepunt op die Suidoosterfeesprogram. Maak jou reg vir ’n lieflike musikale dis vir die hele gesin wanneer wenners van die ATKV- Koorkompetisie saam met van die beste klassieke musici in Suid-Afrika op die verhoog verskyn. Nina Schumann en Megan-Geofrey Prins begelei die stemme op twee klaviere, en die violis Petrus de Beer gaan jou betower. En dan is daar ’n massakooruitvoering met meer as 100 stemme wat jy beslis nie gou gaan vergeet nie. ’n Luisterryke fees van koorsang en klassieke klanke!
Klik hier om ’n kaartjie te koop.
ATKV|Rapport-Harmonie-koorkompetisie
Beoordelaars: Betsie Ryke, Aidan Lewis en Zanne Stapelberg-de Lange
Dié kompetisie is in die lewe geroep vir nie-professionele kore in die Wes-Kaap. Kore en sanggroepe kom van oraloor om hul talent ten toon te stel – die Karoo, Swartland, Boland en die Kaap. Hierdie inisiatief help ontwikkel koormusiek en ondersteun deelnemers wat nie toegang tot professionele leiding het nie. Slypskole deur gesoute musici verseker klanke in perfekte harmonie wat glans aan ons 20ste fees verleen.