Skip to main content

Teksskrywers het vanjaar weer die geleentheid om hul idees tydens die sesde Teksmark wat van 17 tot 19 November in die Baxter-teatersentrum aangebied word, te toets. Dié projek deur die KKNK, in samewerking met NATi en die Baxter-teatersentrum, word deur die ATKV en die Wes-Kaapse Regering se Departement van Kutluursake en Sport ondersteun. Ons het vanjaar 80 voorstelle ontvang, waarvan 21 in die vorm van uittreksels as leesteater aangebied sal word.

Mnr. Gerrie Lemmer, die ATKV se Uitvoerende Hoof van Kultuur, sê die ATKV ondersteun graag hierdie projek, omdat dit teater bevorder en lewende erfenis skep. Teater vorm ’n spieëlbeeld van wat in ’n land en in ’n gemeenskap plaasvind, en andersyds omdat dit konkreet en visueel ewige waarhede vergestalt, is die voortbestaan van die teater baie belangrik.

Teater kommunikeer hoofsaaklik deur middel van woorde en herhaling, en bou so op ’n besondere wyse aan ’n jong generasie se kultuur. Deur teatermakers se tekste en opvoerings, tree hulle op as veranderingsagente wat mense uit verskillende gemeenskappe saamsnoer om van Suid-Afrika ’n mooier plek te maak.

Die projek is in 2018 deur die Fleur du Cap-teaterprys vereer met ’n spesiale prys vir innovasie ter erkenning van die bydrae wat dit tot die kreatiewe bedryf lewer.

Die idee is om teater te bevorder, Suid-Afrikaanse verhoogstukke te ontwikkel en ’n platform te skep waar skrywers hul idees en tekste kan vertoon, met die oog op moontlike verdere ontwikkeling deur geïnteresseerde partye.

Aanvanklik was die idee om Afrikaanse teksontwikkeling te laat uitbrei en nuwe stukke met die oog op feesverhoë te ontwikkel, maar, soos wat die projek uitgebrei het, kan ander tale ook deelneem. Dit sluit al die amptelike tale in. “Die ATKV sien meertaligheid nie as ’n bedreiging nie, maar as ʼn geleentheid om brûe te bou en sosiale kohesie te bewerkstellig,” sê Gerrie.

Teksmark is ’n broodnodige jaarlikse inspuiting van kreatiwiteit vir almal wat betrokke is. Dit is ’n spasie om te eksperimenteer en gehore, vervaardigers en feeste te toets vir nuwe teksidees.

Hierdie projek bied die geleentheid aan skrywers om die status quo te bevraagteken en die aktuele sake van die dag aan te spreek.

“Vir skrywers is dit ’n motivering om aan te hou skep en die platform te bied waar ’n teks nie net op grond van ’n aansoek gekeur word nie, maar op grond van ’n uittreksel beoordeel word om verder te ontwikkel. Die gesprekke wat na elke voorstel volg, maak gedagtes onder rolspelers en gehoorlede los vir progressiewe denke oor die samelewing én teater. Dit is ook ’n waardevolle platform om nuwe skrywers en talent te ontdek,” sê Gerrie.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê: “Te danke aan kunste-organisasies soos die ATKV en NATi, is die gewaarwording dat die kunste in tye van nood ’n lewensaar is, en die gepaardgaande borgskappe maak dit vir Kunste Onbeperk moontlik om veral in dié tye interessante maniere te vind om kunstenaars en kreatiewes aan te moedig om te skep, hul inkomste te verskaf en by te dra sodat kunste steeds aanhou voortbestaan. Platforms word geskep om sterker ander kant (van die pandemie) uit te kom. Die geleentheid was natuurlik nie verlede jaar daar om werklik nuwe produksies uit die voorleggings vir 2021 te ontwikkel nie, maar daar is beslis stukke van verlede jaar wat saam met hierdie jaar se nuwe voorleggings in 2022 en 2023 die lig sal sien.”

Teksmark se aantal inskrywings asook die gehalte van die inskrywings het verbeter. Die feit dat Teksmark nou ook tekste in alle amptelike landstale aanbied, het betrokkenheid van die breër bedryf, en nie net die Afrikaanse bedryf nie, tot gevolg.

Die Teksmark-konsep is ook vanjaar uitgebrei met Teksmark Oudtshoorn, wat spesifiek op die ontwikkeling van streeksstories en taal fokus, en dan ook ’n susterprojek, TEKSTMARKT, wat internasionale samewerking tussen skrywers van Nederland en Suid-Afrika bewerkstellig en tekste op ’n internasionale vlak ontwikkel. Gerrie sê dat die ATKV op ’n inklusiewe en kreatiewe wyse na die taalbehoeftes van die diverse Afrikaanssprekende gemeenskap omsien.

Die diversiteit van jong stemme en ook bruin en swart stemme verdiep elke jaar.

Teksmark het ’n hoogtepunt op die teaterkalender geword en is besonders gewild.