ATKV-projekte floreer dwarsoor SA

Afrikaanse klasse vir leerders en hul ouers in Soweto? Wiskunde- en leesklasse vir plaaswerkers in Touwsrivier? Vyftienjariges wat kospakkies versamel sodat almal – en dit beteken almal – in Douglas kos het vir Kersfees?
Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde van hoe die ATKV op die grond in gemeenskappe help waar staats- en korporatiewe hulp meestal tekort skiet, meen Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW. Sy het tydens die organisasie se Kultuurkuier gereageer op projekte wat deur ATKV-takke bedryf word.
***
Suzie Matlhola is die voorsitter van die ATKV-tak Vorentoe in Soweto.
Dit het alles begin toe sy in 1988 by die ATKV begin werk het en self wou leer om Afrikaans beter te kan praat. Maar, soos enige merkwaardige plan, het dit vlamgevat toe sy haar kollegas en mense wat op dieselfde trein as sy ry, vertel dat sy taallesse by die Universiteit van Pretoria sou ontvang.
Oornag het die “klas” van 1 tot 25 gegroei.
“By die huis het die kinders van my klasse gehoor en hul vriende vertel. Ek kon nie weier nie, en kort voor lank het ons Afrikaanse klasse vir leerders vanuit ’n plaaslike kleuterskool aangebied,” verduidelik sy.
Dit het net 3 weke geneem om te groei van 3 tot 25 kinders.
“Vir my was die lesse maar net ’n goeie manier om myself te help om Afrikaans te praat deur dit vir ander te leer. Maar toe doen die riemtelegram weer sy ding. ’n Vriendin het van die klasse gehoor. Sy het by my aangesluit en ons het begin klasgeld vra. Die klasgeld is gebruik om skoolklere vir behoeftige kinders te koop. En daar het alles begin.
“Want toe kom die MIV-pandemie en baie kinders is ouerloos. Hulle het kos by die skool gekry, maar nie in vakansies nie. Nou ja, die enigste uitweg was om ’n ATKV-tak in Soweto te stig.”
Met die ATKV aan boord, is Suzie toegegooi met donasies van boeke, klere en komberse.
Die taalprojek was uiteindelik so suksesvol dat die ATKV se taalafdeling dit oorgeneem het.
Suzie ontvang egter nog elke Saterdag kinders vir ekstra lesse in ’n geskenkte skeepshouer. Tans kom 150 kinders weekliks getrou, “al was dit meer voor Covid”.
“Elke jaar vier ons Moedertaaldag, want daar word baie verskillende tale in Soweto gepraat.
“Dan is daar Internasionale Boekedag in April. Ons reël dat jong skrywers met die kinders kom praat oor ’n leeskultuur. Jy kan immers nie skryf as jy nie kan lees nie!”
Ander organisasies soos Biblionef stuur vandag – amper 35 jaar later – steeds boeke.
Natuurlik gaan dit nie net om lees nie. Elke jaar is daar ’n loopbaandag, en Mandeladag word getrou gevier met uitreike in die gemeenskap.
***
Vir die magdom werk wat die ATKV-tak Téhilah se voorsitter, Clemence Thomas, doen, is hy ’n besonder beskeie mens.
Hy is ’n laerskoolonderwyser in Touwsrivier, en lei ’n tak wat oorwegend uit plaaswerkers bestaan.
Die ommekeer in sy lewe het begin toe ouers hom in 2013 om hulp gevra het.
“Hulle was onsteld, want hulle kon nie hul kinders se skoolwerk verstaan nie, omdat dit anders is as waaraan hulle gewoond was. Die enigste oplossing was wiskundeklasse vir plaaswerkers.”
Die klasse word op Maandagaande aangebied en op Saterdae herhaal vir diegene wat op Maandae werk.
Soos alle goeie dinge, het die projek nie daar geëindig nie en is later uitgebrei na winterskole vir graad sesse.
“Binne ’n kort tyd het ons in die verpligte toetse van die Wes-Kaapse onderwysdepartement ’n 13%-verbetering gesien, en was ons een van die topskole in die Wynlande.”
Wat eens ’n niefunksionele tak was, het begin wortel skiet. Tans is daar 26 aktiewe lede. Sukses bring egter groei, en Thomas ontvang gereeld navrae van ouers oor hoe hulle by die tak kan aansluit.
Die plan is om die tak in groepe op te deel sodat daar maandeliks ’n groepprojek geloods word.
“Ons het gou besef dat die volgende hindernis die kinders se leesvermoë is. Omtrent 80% van die graad vier-leerders kon nie behoorlik lees nie, wat beteken dat hulle nie woordsomme kon verstaan nie. Ons moes noodgedwonge die projek uitbrei en taalonderwysers betrek.”
Daar is baie suksesstories.
“As kinders hul rapporte kry en die styging in hul punte sien, bou dit die kinders én die ouers op. Ouers getuig dat hul verhouding met die kinders verbeter omdat hulle saam tyd spandeer. Die ouers voel produktief en nuttig en die kind voel bemagtig.
“Daar was een keer ’n seuntjie wat baie gesukkel het in die laerskool. Ek het die idee gekry die onderwysers gee moed op met hom.
“Toe ek met hom begin werk, het hy al sy tafels binne ’n week geken. Hy het nie net wiskunde nie, maar al sy vakke begin geniet. In graad sewe was hy die toppresteerder in al sy vakke.
“Vandag studeer hy vir ’n BCom-graad.”
In die winter is daar nie veel plaaswerk nie en is 85% van die ouers werkloos. Hulle begin egter stadigaan besef dat dit hulle meer tyd gee met hul kinders.
“Daarom het ons nou begin om die ouers op te lei om hul kinders te leer lees met die hulp van opleidingsmateriaal van die ATKV. Die proses werk so goed dat die kinders nie die skool wil verlaat nie. Selfs in vakansies kom hulle skool toe om te leer. Boonop word hulle kwaad as hulle nie by besluite betrek word nie.”
As daar ’n aankondiging is dat ’n wiskunde-en-wetenskap-ekspo beplan word, daag daar sommer 60 kinders op.
Hulle is so ywerig dat hulle nou selfs PowerPoint-aanbiedings aan volwassenes doen oor hoe om die omgewing te beskerm.
Ander planne vir die volgende jaar sluit in ’n wetenskapuitstalling, die oorhandiging van trofees aan rolmodelle in die gemeenskap, die uitdeel van komberse aan plaasgemeenskappe en traumahantering-seminare vir onderwysers.
***
Rolindi Krügel sien vir baie dinge kans, al is sy net in graad sewe.
Nie net is sy die voorsitter van die ATKV-tak HSD Delf Diep in Douglas, waar sy en nog agt bestuurslede verantwoordelik is vir 100 tienertaklede van graad ses tot twaalf nie – sy wil ook sien dat niemand in Douglas honger gaan slaap nie.
In Januarie het sy haar Blikkies vol Hoop-projek begin, waar leerders blikkieskos insamel. Kort daarna is sy deur ’n ander ATKV-tak uitgedaag om ook bottels met droë sopbestanddele in te samel. Die projek was so gewild dat daar nou ’n kompetisie by die Hoërskool Douglas is om te kyk watter graad die meeste kos kan insamel.
Daar is reeds 500 blikkies en bottels, maar sy hoop om veel meer te doen voor die skole sluit. Die skool self het aangebied om te help met die verspreiding van die kos, aangesien sommige mense in nood ver van die dorp op plase woon.
“Ek weet daar is so baie mense met minder as ek, so ek sien regtig uit om glimlagte op mense se gesigte te sit met hierdie projek.
“Dis ’n vreugde om mense te help, terwyl jy en jou taklede voel soos ’n familie wat iets saam aanpak, al kom ons van diverse agtergronde.
“Ons het so baie gemeen. Ons is lief vir ons taal en kultuur en mal daaroor om ander mense te help.”
Die geheim in ’n diverse gemeenskap soos Douglas, sê sy, is om te verseker dat almal in ag geneem en niemand uitgesluit word nie.
Die taklede het steeds spanbougeleenthede, byvoorbeeld om soos ’n idioom aangetrek skool toe te kom, maar die hart van hierdie tak is blikkies en bottels kos vir honger lede van hul gemeenskap.