ATKV se #AJV2018: kwaliteit, kreatiwiteit in die vierde industriële revolusie

In wat deesdae die vierde industriële revolusie gedoop word, is dit vir organisasies en individue toenemend ’n stryd om te floreer en innoverend in hul gemeenskappe en die samelewing te wees.
Dít was die boodskap van prof. Ian Rothmann, buitengewone professor in bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit en direkteur by die Optentia-navorsingsfokusarea, tydens die ATKV se algemene jaarvergadering by ATKV-Klein-Kariba by Bela-Bela (Warmbad).
Die vierde industriële revolusie verwys na die vooruitgang van tegnologie wat lyne tussen die fisieke en digitale sfere onduidelik maak.
“Mense werk in kokonne wat minder interaksie met ander benodig,” sê Ian.
“Dit neem 30 sekondes vir ’n persoon om ’n goeie verhouding met ’n ander te bou deur eenvoudige lyftaal en oogkontak.”
Maar volgens hom gebeur dit nie meer nie omdat die vierde industriële revolusie die verbintenis van groepe bemoeilik.
Ian was vanjaar die gasspreker by die algemene jaarvergadering wat veral klem op innovasie en opleiding geplaas het.
“Tegnologiese vooruitgang bedreig dikwels die welstand van mense.
“Om te kan floreer moet daar op ’n gesonde en energieke wyse – veral in ’n gunstige omgewing – gegroei en ontwikkel kan word,” sê hy.
“Om welstand te bewerkstellig moet ons aandag skenk aan die saad, sowel as die grond. Dus die mense sowel as die konteks.”
Ian ’n paar wenke om toe te sien dat die "saad" en die "grond" floreer.
“Bevorder mense se vermoëns om hulself en die wêreld te verstaan.
“Ontwikkel leiers wat organisasies kan bestuur en herbou en bied deurlopend omvattende opleiding aan.”
Die ATKV het met vanjaar se jaarverslag weer bewys watter kritieke rol die organisasie speel in innovasie en opleiding en om seker te maak dat die individu en gemeenskappe floreer.
“Die grondslag is gelê vir die finansiële volhoubaarheid van die ATKV-MSW- en die -Sake-groep. In hierdie verband is dit verblydend om te rapporteer dat albei groepe ’n positiewe bedryfsresultaat gelewer het,” sê Sonél Brits, waarnemende besturende direkteur van die ATKV.
In die 2017-’18-verslagjaar het die organisasie ’n allemintige R18 miljoen aan taalprojekte, R26 miljoen aan kuns-, kultuur- en erfenisprojekte bestee, R6 miljoen terug in gemeenskappe geploeg en R6 miljoen aan onderwys bestee.
Volgens Anton Redelinghuis, voorsitter van die ATKV-direksie, is die sukses van dié projekte te danke aan die ATKV-oorde wat selfs in ’n strawwe ekonomiese klimaat goeie resultate lewer.
“Die ATKV-lede – wat ongeveer 69 000 beloop – dra grootliks by tot die sukses van ons oorde en sodoende indirek tot die rol wat die ATKV op die terrein van taal en kultuur speel.”
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV, streef die organisasie voortdurend na innovasie.
“Als wat ons doen, dra die seël van kwaliteit en kreatiwiteit.”