ATKV-Sêrfinaliste is magneties!

Vingerklap- en voetestamplekker sêr wat sorg vir hoendervleisvermaak trek vanjaar soos ’n magneet jong talent en gehore bymekaar. ATKV-Sêr is ’n a capella-kompetisie wat in sy tienerformaat neig na musiekteater deur tema, sang, dans en storievertelling – ’n kunsvorm waar elke noot en beweging sy eie kragveld het.
ATKV-Sêr vir tieners het tydens die ATKV-Tienertoneelstreeksfeesfinale landswyd sy stempel in teaters afgedruk. Nou is die vier nasionale finaliste gereed om op 6 Oktober by die Pam Golding Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad deel te wees van die ATKV se nasionale magnetiese toneelfinaal – ’n aand waar die energie tussen die verhoog en gehoor voelbaar gaan wees.
Met oorspronklike komposisies en vars musieksamestelling bring die groepe ’n nuwe aantrekkingskrag na a capella-sang wat beloof om die gehoor letterlik op hul voete te kry.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV-Toneelaanbod, beskryf Sêr as ’n kreatiewe kragbron.“ATKV-Sêr bou selfvertroue en gee jou ’n stem, selfs wanneer jou woorde opraak. Die bekendstelling van ATKV-Sêr aan hoërskole het ’n unieke energie ontketen – ons tieners is magneties in hul passie, vreesloos in hul inspirasie en gemaklik om grense te verskuif.”
Die vier nasionale finaliste wat die verhoog gaan laat vonk, is:
- Die Hoërskool Ferrum in Newcastle
- Die Hoërskool Garsfontein in Pretoria
- Die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
- Die Hoërskool Zwartkop in Centurion
Hierdie finaal pas naatloos in by vanjaar se “Magneties”-tema, en R20 000, asook die ATKV-Sêr-wisseltrofee, is op die spel.
Laat jouself hierdie jaar magneties meevoer deur stemme wat jou nie net laat luister nie, maar ook laat voel.
Kaartjies vir die ATKV-Sêrfinaal is vanaf Woensdag 10 September op Webtickets beskikbaar.