ATKV-skoleskryfprogram: Dit vat ‘guts’
“Jou storie is so belangrik en maak saak vir ons, so skryf dit.”
Só sê skrywer Anzil Kulsen, wat by vanjaar se Adam Small-fees in Pniël sertifikate oorhandig het aan die talentvolle jong wenners van die ATKV-skoleskryfprogram wat vir leerders in die vallei van die Simons- en Drankensteinberge aangebied is. Die leerders kon vir die prosa- of die poësiekategorieë inskryf tydens of na afloop van die skryfwerkswinkels wat verlede jaar in September plaasgevind het onder leiding van Anzil.
Die skoleskryfprogram is Anzil se breinkind en word deur die ATKV en die Vriende van Afrikaans (VVA) ondersteun. Die ATKV is reeds sedert die beginjare van die fees in 2017 betrokke daarby, meestal deur die ondersteuning vir jeugprojekte. Die Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV, dra ook jaarliks by tot leesontwikkelingsprojekte en literêre gesprekke wat aangebied word.
Vanjaar het nagenoeg 60 leerders van vier skole aan die skoleskryfprogram in die Dwarsriviervallei deelgeneem. Van die Kylemore Sekondêre Skool was daar 30 leerders, die PC Petersen Primêre Skool het 10 leerders gestuur, daar was 10 leerders van die Pniël Primêre Skool, saam met 10 leerders van die Simondium Primêre Skool.
Op die Donderdag van die fees het Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, Janine Myburgh, feesbestuurder en voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) en Anzil Kulsen, skrywer en skryfskoolprogramleier, sertifikate aan die wenners by drie skole oorhandig.
Die skole was die Simondium Primêre Skool, die Pniël Primêre Skool en die PC Petersen Primêre Skool. Simondium Primêr kan geloof word vir ’n ywerige juffrou, Florence Phillips, wat die hele skool in die vierkant laat aantree het om hul jong skrywers aan te moedig en te prys vir hulle skryfwerk.
Chareldine se boodskap was dat dit guts vat om te skryf, want “dis nie altyd so lekker as mense sien wat binnekant aangaan nie, maar dit help om te skryf, want dít moet uit.”
“Die kinders het baie maatskaplike kwessies en kom uit huise waar daar trauma is. Op ’n manier moet hulle positief bly. Die skryf help daarmee,” sê Anzil.
“Ek is so bly ek het nie self die jong skrywers se werk beoordeel nie. Ons het ’n onafhanklike paneel gehad wat hulle werk uitgesonder het, want anders sou dit vir my bitter moeilik gewees het,” sê Anzil.
“Dis ’n belewenis om saam met hulle te werk. Dit vat ’n tydjie om hulle vertroue te wen, dis waarom ons die skryfwerkswinkels kort op mekaar hou. Hulle soek ’n uitlaatklep, en as hulle skryf vind, gebruik hulle dit,” sê Anzil.
Sy noem dat die opdrag aanvanklik was dat jy mag skryf soos jy praat, maar jy moet ook ’n woord uit die woordeboek gaan soek en dit binne die regte konteks gebruik.
“Maar hier in die Dwarsriviervallei praat hulle taamlik Standaardafrikaans en minder streektaal, so die skrywes was baie soos hulle sou praat,” sê Anzil.
Die jong skrywers is op die Saterdagoggend van die fees verder vereer toe hulle op die verhoog in gesprek was met Anzil in die Pniël-museum se teetuin. Die jong skrywers het al hulle moed bymekaar geskraap om hulle eerlike en roerendes skrywes met die nuuskierige gehoor te deel deur dit voor te lees. ’n Mens kon ’n speld hoor val soos die leerders hul aandoenlike poësie- of prosawerke oor die dood wat kom steel (Kristen Frederick se “Egoïs”) of sosiale kwessies soos die monster van molestering (Caitlyn Jephtas se “Die vreemdeling”) met die gehoor gedeel het.
“Ek was verskriklik opgewonde om hierdie projek saam met die ATKV te begin. Dit was so verfrissend om met die kinders saam te werk. Daar is soveel talent versteek in die jong leerders. Hulle het ons emosioneel baie aangeraak, want hulle het uit hul harte en heelwat persoonlike ervarings geskryf – die skryfwerk was diep – ons en die beoordelaars was verbaas en baie beïndruk met die gehalte en inhoud van die skryfwerk,” sê Janine.
“Een doel van die projek was om die jong skrywers by die Adam Small-fees die geleentheid te gee om oor hul skryfwerk te praat. Die leerders het ons skoon verbaas en bewoë gelaat by die fees. Hulle was so braaf en vol selfvertroue op die verhoog en het nie gehuiwer om hul werk voor te lees nie. Almal wat by die projek betrokke was, was super-trots op die leerders. Die projek was voorwaar ’n sukses en iets om trots op te wees.
“Ons moet ook baie dankie sê aan die skoolhoofde en onderwysers wat so bereidwillig was om deel te wees van hierdie projek, en aan die ATKV, die VVA en Lapa Uitgewers vir hul ondersteuning,” sê Janine.
Die wenners was van die ATKV-skoleskryfprogram was:
Hoërskool
Kortverhaal
Wenner: Caitlyn Jephtas – “Die vreemdeling”
Naaswenner: Jaimica Cijster – “When romance and family combine”
Wengedig: Kristen Frederick – “Egoïs”
Laerskool
Kortverhaal
Wenner: Chelsea Ryneveld – “Wit troue of swart begrafnis”
Naaswenner: Anastacia Fredericks – “Weeskind, valse glimlag”
Derdeplekwenner: Lira van Staden – “My familie”
Wengedig: Ragin Jansen – “My broertjie”