ATKV-skoleskryfprogram: ‘Sit jou storie op papier’
Nagenoeg 80 graad 8- en graad 9-leerders van die Hoërskool Kylemore het die voorreg gehad om na die bekende jeugskrywer en ATKV-skoleskryfprogramfasiliteerder, Anzil Kulsen, se boekegesprek tydens vanjaar se Adam Small-fees in die Dwarsriviervallei te luister. Die gesprek het op die Vrydag van die fees in die saal van die Pniël Congregational Church (1881) plaasgevind.
Anzil se jeugverhaal, Sorrie maak nie gesond nie, is bespreek, terwyl die VVA se projekorganiseerder en die gesprekleier, Shireen Crotz, ook vir Anzil uitgevra het oor haar skrywersloopbaan, die Noord-Kaap, haar inspirasie en haar groot liefde vir skryf.
Hierdie boekgesprek was deel van die ATKV en die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, se jeugprojekte op die fees om lees onder jongmense aan te moedig en te ontwikkel.
Keimoes in haar are
Shireen het die gesprek begin deur klem te lê op watter voorreg dit is om ’n “regte, egte skrywer” te hoor praat.
“Julle is baie bevoorreg. Dis ’n unieke situasie. Anzil het baie boeke geskryf – selfs een van julle voorgeskrewe jeugromans, Zita,” het sy gesê.
Zita handel oor ’n bruin meisie wat in ’n plakkerskamp grootword. Haar pa is ’n Indiër en sy lyk dus anders as die ander kinders. Die vervreemding en probleme met aanpassing word vergroot wanneer sy as gevolg van haar buitengewone akademiese prestasies in ’n skool met hoofsaaklik wit kinders beland.
Dis maar net een van die 13 boeke in verskeie genres (jeug- en kinderboeke, volwasse romans en nagenoeg 30 kortverhale) uit Anzil se pen. Ander bekende jeugboeke van Anzil is die Bitterbosbende-reeks, die Karatekas-reeks, ’n Hart vol sand en Sorrie maak nie gesond nie.
“Ek kom van ’n klein dorpie genaamd Keimoes. Dis so klein, daar is geen verkeersligte nie. Daar is net een hoofstraat en as jy nies, is jy deur die dorp.
“Toe ek so oud was soos julle, was ek baie lief vir die biblioteek. Ek sou altyd deur die tydskrifte blaai,” het sy die jongklomp vertel.
“Ek het baie drome gedroom as ek ’n boek gelees het, en gedink ek wil ook eendag só skryf. Maar ek wou stories skryf vir die gemeenskap waarin ek leef. Daardie tyd het boeke nie alle rasse en karakters verteenwoordig nie.
“Al het ek eers later gaan studeer in kreatiewe skryfkuns en tale en letterkunde, wou ek skryf vandat ek kan onthou.
“Ek het aanvanklik eers ander goed gaan swot, maar wel later my kwalifikasies in letterkunde verwerf,” sê sy.
In 2000 skryf sy in vir ’n kursus in kreatiewe skryfwerk deur The Writers Bureau in Engeland, waar sy in 2003 ’n sertifikaat verwerf. Terselfdertyd word haar eerste artikel in die De Kat-tydskrif gepubliseer. Dit het gehandel oor ’n pa wat aan depressie ly, en hoe hy sy kinders vermoor, die lyke in sportsakke sit en in die rivier gooi.
“Was jou pad maklik?” vra Shireen op ’n stadium tydens die gesprek.
“Niks wat die moeite werd is, is maklik nie. Ek het vir meer as 20 uitgewers geskryf om ’n storie te publiseer. Hulle het ‘nee’ gesê, met ’n rede soos, ‘Dit pas nie by die tydskrif nie’ of ‘Die genre is nie reg nie’. Ek moes nog kursusse doen om die regte terminologie te verstaan.
“Ek het net altyd vir myself gesê, maak nie saak wat julle sê nie, ek gaan weer probeer. Hoe meer jy oefen, hoe beter word jy. Moenie net by die eerste ‘nee’ opgee nie,” antwoord Anzil.
“Wie was jou rolmodel wat jou gehelp het met skryf?” vra Shireen.
“Omdat ek baie gelees het was daar baie skrywers,” sê Anzil. “Toe ek in matriek was, het ek vir my ma gesê ek gaan skryf. Ma het die Huisgenoot vir my gegee waarin dr. Murray Janson geskryf het. Iemand het vir hom gevra, hoe lank moet ’n mens aanhou?
“Die Britse skrywer en akteur, John Cleese, het glo meer as 500 manuskripte gestuur vir publikasie voor die eerste een aanvaar is. Hy het later meer as 700 geskryf onder sy naam en ander skuilname.
“Ek het altyd vir myself gesê, as ek tien keer die ‘nee’ kry, dan gaan ek ophou. Ek het al meer as 100 ‘nee’-briewe gekry en nooit opgehou nie.”
Dié skrywer het twee kinders. Shireen vra of haar kinders in haar gedagtes is as sy jeugboeke skryf.
“Een van my stories, “Dewald”, opgeneem in die Platinum Afrikaans Huistaal Graad 7 Leesboek, is oor ’n outistiese seuntjie,” vertel Anzil.
“In my lewe ontmoet ek baie kinders op die spektrum. Dewald het ek geskoei op ’n seun wat ek ontmoet het. Karakters kom uit verskillende mense wat oor pad kom.”
Sy noem dat sy die Bitterbosbende-reeks saam met haar seun geskryf het.
“Ons gaan bly graag by vakansieplekke. Ons het eendag op ’n plek gebly wat gedeeltelik op grafte gebou is.
“Ek vra my gesin, hoor julle dít wat ek hoor? Ek het nie ’n oog toegemaak nie. Wat as die mens wat begrawe is, wil hê sy graf moet erkenning kry en ons slaap dan daarop?”
Dit was die eerste boek, Bitterbosbende: Die geheim van die nuwe hoof – toe wil die uitgewer nog een hê. Ek het geskryf en my seun het ’n bietjie geskryf. Hy sou graag sê as die karakters se taal nie werk nie, of as dinge in die boek nie vir hom uitwerk nie. Omdat die jeug se slang so gedurig verander, moes hy my help met dit.
Shireen vra vir Anzil hoe sy seker maak haar skryfwerk is geloofwaardig.
“Ek kan kinders nie maklik flous word, veral as hulle 13, 14 of 15 jaar oud is. As jy ’n kinderskrywer wil wees, moet jy skryf oor wat jy ken. Zita was naby my, dis baie outobiografies. My pa wou my nie hê nie en ek was ’n kind wat by ’n enkelma grootgeword het. Dit was my eie emosionele belewenis. Dinge het verskil – soos die dorp, die karakters soos die haarkapper en die werker in die bankwese. Daarvoor moes ek navorsing doen.
Oor Sorrie maak nie gesond nie sê Anzil: “Dis ’n verhaal van ’n matriekmeisie genaamd Rose se stryd nadat sy besef sy is swanger. Sy wil nie seksueel aktief wees nie, maar Rodriek dring aan en ná hulle besoek aan die klub Las Vegas, is sy verwagtend. Sy het te veel gedrink en kan niks van die gebeure onthou nie. Sy glo dat Rodriek haar verkrag het. Rose se ma drink te veel en treur nog oor die dood van haar boetie, terwyl haar afwesige pa probeer om betrokke te wees by sy familie, maar nie werklik slaag nie.
“Deur koerante te lees, het ek besef sulke klagtes kom al hoe meer voor, so ek het dit vir tieners geskryf sodat hulle beter keuses in moeilike situasies kan maak.”
Oor jong skrywers se toekoms is Anzil positief.
“Wat vir my belangrik is, is dat elkeen ’n storie het om te vertel. Daar is iets uniek in jou lewe of by jou huis wat aan die gang is. As jy jou storie skryf, kan jy ander help,” sê Anzil.
“My grootste begeerte is dat elkeen wat hier sit dit tog waag om ’n storie te skryf en met die wêreld te deel. Dit help om pen en papier te vat en jou storie op papier te sit.”
Vir nou lyk die toekoms rooskleurig vir die Noord-Kaapse woordsmid.
In Maart en April se Rooi Rose-uitgawes verskyn daar van haar kortverhale. Dan wil sy weer tyd hê om ’n roman vir volwassenes te skryf.
Hoe voel dit om ’n skrywer te wees?” vra ’n leerder uit die gehoor.
“Ek knyp myself gereeld. Goed soos hierdie gebeur: Jy praat voor mense en ontmoet altyd nuwe mense. Jy praat oor die radio. Dis ’n wonderlike gevoel om te weet ander mense lees jou goed. Jy sien ander dele van die land of die wêreld ook.”
Kopskuif-gesprek
Na afloop van die gesprek het die snaakse André Hendricks, aan die stuur van die ATKV se Kopskuif-program, die leerders vermaak deur lesse met hulle te deel.
Die vier lesse wat André gedeel het, was:
- Moenie tyd mors nie.
- Jou gesindheid moet reg wees.
- Maak die regte keuses.
- Dis in jou hande.
Hy sluit af deur al die leerders te kry om “I can, I will, I must” hardop te herhaal.
Die leerders is almal huis toe met ’n koeldrank en ’n worsbroodjie wat deur die lede van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) uitgedeel is – en daarby nog ’n hele klomp pitkos ook.