ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie: Skryf in

Die ATKV en die Suidoosterfees het weer goeie nuus vir amateurkore wat gemeenskappe in die Wes-Kaap se harte met hul stemme verower. Die Suidoosterfees word van 30 April tot 4 Mei 2025 in Kaapstad aangebied en inskrywings vir die jaarlikse ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is nou oop. Die algehele wenners van die kompetisie word by die fees aangewys.
Sanggroepe en kore wat op plase, in kerke en plaaslike gemeenskappe bedrywig is, kan suidoosterfees.com besoek vir inskrywingsvorms. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 10 Maart 2025, of sodra die kapasiteit vir die aantal deelnemende kore bereik is.
Kompetisiewenners ontvang trofees en word genooi om tydens die Suidoosterfees saam met bekende sangsterre op te tree.
Vanjaar was die volgende kore wat verskillende kategorieë gewen het op die feesverhoog saam met Emo Adams, Jodi Jantjies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor:
- Porterville se Messengers of God (sanggroep);
- Die Zolani-jeugkoor van Ashton (gemeenskapskoor) en
- Die Bosman Adama-koor van Wellington (plaaskoor).
Finalis-kore wat uit die inskrywings gekeur word, word genooi om werkswinkels by te woon waar hul vaardighede deur kenners in die musiekbedryf verfyn word. In 2024 is dié slypsessies in Ceres en tydens die Adam Small-fees in Pniël aangebied.
Die ATKV en die Suidoosterfees bied die kompetisie elke jaar aan om volhoubare musiekgeletterdheid en opleiding onder amateurkore en koorleiers te bevorder.
Johan Esterhuizen van die ATKV sê: “Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is ’n besonderse kompetisie en hartsprojek wat plaaskore, gemeenskapskore en kerkkore die geleentheid gee om hul talente in die wonderlike Artscape aan die breë publiek bekend te stel.”
Vir navrae en meer inligting kan Johan gekontak word by johane@atkv.org.za.
Die Suidoosterfees se hoofborge is die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; die Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.