ATKV-tak bemagtig kinders met broodbak-les

Om kinders in behoeftige gemeenskappe te leer hoe om selfonderhoudend te wees, is vir die ATKV-tak Sommer Net Ons ’n deurlopende fokus. Dié tak, tesame met die Eagle Kidz-groep, het op Madibadag ongeveer 200 kinders van Syferfontein, ’n deel van Pacaltsdorp, geleer hoe om self ’n brood te bak.
Takvoorsitter Beverley McKay sê daar woon ongeveer 1 500 behoeftige gesinne in Syferfontein. ’n Groot klomp kinders uit dié gemeenskap het die skool vroeg verlaat en dwaal smiddags in die strate rond. “Hulle loop van huis tot huis en vra vir kos, meestal ’n broodjie,” sê Beverley.
Eagle Kidz is ’n groep kinders uit verskillende huisgesinne wat deel is van Eagle’s Nest Ministries in Pacaltsdorp. Die kinders is deurlopend deel van die ATKV Sommer Net Ons-tak se projekte en uitreikaksies. Beverley sê hulle doel is om die kinders bloot te stel aan kuns- en kultuurprogramme en om hulle met geestelike waardes toe te rus.
“Hulle is die voertuig waarmee ons ander gemeenskappe se kinders bedien,” sê sy.
“Ons het ’n behoefte in die Syferfonteingemeenskap raakgesien en besluit die beste manier om dit aan te spreek was om die kinders te leer hoe om iets vir hulself te kan maak, soos om ’n brood te bak wanneer jy honger is,” sê Beverley.
Die taklede en Eagle Kidz het 200 kinders op Mandeladag van ’n emmertjie, meel, olie en gis voorsien en ’n demonstrasie gegee van hoe ’n broodjie geknie en gebak moet word.
“Daar is in die meeste huise ’n konfytblik wat gebruik kan word om die broodjie in te bak en ’n rooster om dit op die vuur te sit. Die kleiner kinders sal ’n volwassene of groter kind vir hulp moet vra,” sê sy.
“Die projekte is vir ons belangrik. Die kinders in die gemeenskappe waarin ons werk het nie die nodige volwasse ondersteuning nie en staar verskeie sosiale uitdagings in die gesig. Ons projekte is gemik daarop om kinders van kleins af te leer om selfonderhoudend te wees. Ons Eagle Kidz-kinders het ervaar hoe belangrik dit is om ons gemeenskappe te voed, om ondersteuning te verleen en dat teamwork makes dream work. Ons wil graag diensbare leiers grootmaak,” sê Beverley.
Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.