ATKV-tak bevorder lees met boekskenking
![](/media/u1nlhjhz/309383931_10229091212444211_8371746820291868107_n.jpg?center=0.54695717505634855,0.44477925325169693&mode=crop&width=160&height=90&rnd=133124648857430000)
’n Gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir ’n kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Dit is daarom van groot belang dat projekte wat in die leesbehoeftes van kinders voorsien, aangepak word. In Antjie Krog se woorde: “Maak nie saak hoe arm nie, ’n kind wat lees, is ’n bevoorregte kind. Maak nie saak hoe verlate of verwaarloos nie, ’n kind wat lees, is ’n gekoesterde kind.”
Toe Frik Roets, voorsitter van die ATKV-tak Vereeniging, agterkom dat daar ’n geweldige behoefte aan boeke is by die Panfontein Primary School in die Bantu Bonke-gemeenskap in Vereeniging, het hy nie ’n oomblik gehuiwer om die bul by die horings te pak nie. Só het Frik met behulp van lede uit die gemeenskap, 13 boekrakke (een vir elke klas) én boeke ter waarde van R24 000 aan Panfontein Primary School geskenk. Die skenking is op Erfenisdag vanjaar oorhandig.
Frik stap reeds ’n geruime tyd ’n pad met die gemeenskap en vertel hoe hy te hore gekom het van die dringende behoefte by die laerskool.
“Bantu Bonke is ’n gemeenskap wat 500 hektaar grond van die staat ontvang het. Daar is 87 huisgesinne, wat ook die begunstigdes is van die 500 hektaar. Altesaam woon daar sowat 700 mense in dié gemeenskap. Panfontein Primary is geleë in Bantu Bonke.
“Ek het twee jaar terug met hulle CPA (Community Property Association) begin onderhandel om 100 hektaar lande by hulle te huur vir ’n tydperk van vyf jaar. Daar sou oorspronklik net ’n jaarlikse huur ter sprake gewees het, maar die CPA het my genader en gevra ek moet die huurgeld omskakel en as insetkoste gebruik. Hulle wou graag sojabone plant met die huurinkomste. Ons het dit toe só gedoen en hulle kon die laaste twee jaar elke keer hulle huurinkomste verdubbel. Die vernootskap tussen ons het verder uitgebrei, tot waar ek as ’n adviseur optree by hulle tonnelprojek.
“Só het ek en Melvin Tobias, lid van die gemeenskap en streeksbestuurder van die ATKV, op ’n dag by die plaas ingeloer en ’n draai by die Panfontein Primary School gemaak. Ons het albei besluit ons moet hier betrokke raak. So gesê, so gedaan. Ek het ’n vergadering met die hoof en beheerliggaam gereël om te hoor wat die skool se behoeftes is.
“Uit die vergadering kon ons vasstel dat leesmateriaal in Engels, Sesotho en Afrikaans vir die skool uiters belangrik is. Verder het hulle die behoefte aan groentetuine gehad en ook aan ’n skuiling vir die veiligheidswag. Ek het met ons komitee gesels en ons het besluit om die 13 klaskamers van boekrakke te voorsien. Ons het ook R24 000 se boeke aangekoop. Die boeke is egter hopeloos te min en ons soek nóg boeke om hulle te help.
“Die uitdagings vir die skool is, soos in baie ander gemeenskappe, alkoholmisbruik en armoede. Ek moet sê dat die gemeenskap wel visie het en probeer om hulle droom te verwesenlik. Die droom is om ’n voorbeeld van ’n landbou-hub te word en ’n suksesverhaal vir ander te wees.”
Volgens Frik is hierdie tipe projekte uiters belangrik vir die ATKV om te verseker dat daar by kinders ’n liefde vir lees, vir hul moedertaal en vir Afrikaans gekweek word.
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.