ATKV-tak Colesberg pamperlang die inwoners van Huis Kiepersol

Navorsing het al herhaaldelik bevind dat ’n bedagsame daad vir iemand anders ’n mens gelukkiger maak en boonop hartgesondheid bevorder. ’n Klompie ATKV-lede van die Colesberg-tak het onlangs die voorreg gehad om ’n paar van die dorp se senior inwoners te bederf. Naomi Lubbe, wat in Februarie as voorsitter van die ATKV-tak Colesberg aangewys is, vertel “Projek Pamperlang van Oumense in Ouetehuis” was werklikwaar ’n baie geslaagde uitreikaksie as deel van die #weesdieverskil-veldtog.
“Ons het ’n lekker aktiewe tak hier op Colesberg met tussen 35 en 40 lede. Soos met alles het die Covid-pandemie maar ’n stok in die wiele gesteek en baie van ons projekte kon nie voortgaan nie. ’n Rukkie gelede het ons NG-predikant hier op Colesberg, ds. Japie Taljaard, ’n preek gelewer oor hoe om meer betrokke te raak by die kerk. Daarin het hy na die aksie van voete was verwys. Dit het my die idee gegee om dit fisies te doen met ’n pamperlang-oggend waartydens ons die inwoners van Huis Kiepersol, die tuiste vir bejaardes hier op die dorp, kon bederf,” vertel Naomi.
Alles is gereël vir 19 Februarie. Daar is vooraf seker gemaak die inwoners van Huis Kiepersol is gemaklik met die idee en hoewel die bejaardes verstom was oor wat hulle te wagte gaan wees, was daar slegs twee of drie wat dit nie wou hê nie.
“Ons het die bejaardes se voete eers in ’n voetspa gesit en toe gevryf en gewas. Daarna het ons elkeen se voete met ’n bietjie room ingesmeer en lekker gemasseer. Hoewel ’n paar maar skrikkerig was, het hulle gou gesien ons maak hulle nie seer nie en almal het uiteindelik die pamperlang baie geniet. Dieselfde oggend het twee ander vroue, wat nie betrokke is by die ATKV nie, spesiaal vir die oumense kom sing. Dit het almal baie rustig gemaak en die oggend was beslis ’n groot sukses,” vertel Naomi.
Die ATKV-tak Colesberg sê hierdie was nie die laaste keer dat die bejaardes bederf gaan word nie. Die dag was baie suksesvol en die lede het besluit om ná die winter, wanneer almal weer sandale en oop skoene dra, terug te gaan na Huis Kiepersol vir ’n volgende pamperlangoggend.
“Met hierdie uitreik het ek net weer eens besef hoe ’n klein daad vir iemand anders werklik ’n verskil vir daardie persoon kan maak. ’n Mens voel so goed wanneer jy klaar is met so ’n projek en dit was regtig vir my heerlik om op hierdie manier betrokke te kon wees. Daardie dag het ons so gelag, want sommige van die bejaardes wou weet of ons betaal word vir wat ons daar doen. Dit was besonder lekker om te kon sê: ‘Nee, glad nie. Ons doen dit bloot vir die liefde van die saak. Geniet jy dit nou maar net.’”