ATKV-tak Colesberg-Skaapfees keer terug
Die Karoo het weer gespring van opgewondenheid toe die geliefde Colesberg-Skaapfees op Saterdag 4 Oktober ná ’n paar jaar se afwesigheid sy groot terugkeer gemaak het.
Oud en jonk het op die Hoërskool Colesberg se sportgronde saamgestroom om dié besonderse geleentheid te vier.
“Die terugkeer van die Skaapfees was vir ons as gemeenskap van Colesberg baie belangrik,” sê Delmarie Pretorius, voorsitter van die ATKV-tak Colesberg en feesorganiseerder.
“Die fees was meer as net ’n viering. Dit was ’n herlewing van tradisie en die saamtrek van ’n gemeenskap wat hunker na samesyn. Ons visie was om ons gemeenskap byeen te bring, te herenig en ons pragtige dorpie se kultuur uit te beeld. Dit was om ons geliefde taal te vier, aan ons kinders geleenthede te bied en nuwe vriendskapsbande te smee.”
Delmarie verduidelik sy en haar span wou vanjaar die fees en gees in die Skaapfees terugsit.
“Ons wou graag vir meer kinders die geleentheid gee om hulself uit te leef. Daarom het ons vir die kleinspan ’n inkleurkompetisie aangebied. Ons het ook ’n projek aangebied waar kinders geleer het hoe om te brei en hulle het hulle werk met trots uitgestal.
“Verder het kinders van ’n nabygeleë plaasskool met hul talente kom spog deur rieldanse en gumboot-danse uit te voer. Die toneelstuk, Die Mooiste Monsters, het ook die toeskouers vermaak.”
Delmarie sê die fees sou onmoontlik gewees het sonder die onbaatsugtige werk van verskeie rolspelers en die gemeenskap.
“Verskeie borge, onder andere The Courier Guy, Savemor Tops, Tyremart, Kingsley, Astron en BKB het ’n finansiële bydrae gelewer. Vrywilligers – van hoërskoolleerders tot afgetrede inwoners – het ’n sleutelrol in die dag se sukses gespeel.”
Delmarie sonder die hoogtepunte uit.
“Die Mnr. en Mej. Skaapfees het aan hoërskoolleerders die geleentheid gegee om hul spoggerige en kreatiewe uitrustings ten toon te stel en dié aand was weliswaar ’n spoggerige en deftige geleentheid. Die Lamskou was egter die hoogtepunt van die dag. Dit het die gemeenskap gewys dat hierdie die egte merinoskaapwêreld is.”
Feesgangers het ook heerlik aan gebakte skaapkoppe, skaapstertjies, braaivleis, braaibroodjies en vele ander lekkernye gesmul.
“Daar was prettige draadkarresies, bokdrolspoeg, ’n sterkman-kompetisie, boeresport, springkastele en hope stalletjies vir oud en jonk om te geniet. Plaaslike kunstenaars het musiek verskaf, sowel as ’n boere-orkes wat ’n groot gunsteling was. Die fees is afgesluit met ’n vertoning van Barto Swiegers en sy orkes, wat die gehoor op hulle voete gehad het.”
Delmarie sê hulle verwagtinge is heeltemal oortref wat besoekers betref.
“Ek glo ons het ons doelwit bereik. Hierdie fees was ’n bewys van die veerkragtige gees en diep gesetelde honger na samesyn, saamstaan, saamwerk en saamspeel,” vertel sy.
Marie Piek, stalletjiekoördineerder, verduidelik hoe sy bepaal het watter stalletjies toegelaat word en watter kriteria sy gestel het om gehalte en diversiteit te verseker.
“Dit was belangrik om ’n keuringsproses te hê wat gehalte en diversiteit sou bevorder. Daar moes bepaal word of die stalletjies by die identiteit van die fees sou pas, en of ons ’n ervaring by die besoekers sou skep wat familievriendelik sou wees.
“Daar moes ook gekyk word dat die aanlegte netjies en aantreklik is en aan die veiligheidstandaarde voldoen. Ons het spesifiek daarop uitgegaan om ons plaaslike ondernemings en kulture te bevorder.”
Marie was veral met die kosstalletjies beïndruk en vertel dat die biertent – soos altyd – ’n wenner was. Sy is opgewonde vir volgende jaar se fees en het al baie idees om by hierdie geleentheid te implementeer.
Hannerie van der Walt, onderwyseres en lid van die leierspan van die Hoërskool Colesberg wat betrokke is by fondsinsamelingsprojekte, sê: “Hoërskool Colesberg het met groot entoesiasme aan die Skaapfees deelgeneem. Die skool se betrokkenheid by die fees het opnuut getoon hoe onderwys, kultuur en gemeenskap hand aan hand vir volhoubare ontwikkeling kan werk.
“Die skool dien as ’n spilpunt vir opvoeding, sport en kultuur in die streek en sy betrokkenheid by die fees versterk die samewerking tussen onderwys en die breër gemeenskap.”
Sy verduidelik verder die Skaapfees vorm deel van ’n groter visie om die band tussen die Hoërskool Colesberg en die gemeenskap te versterk.
“Die fondse wat ingesamel is, sal gebruik word om sigbare verbeterings aan die skool se fasiliteite aan te bring en nuwe leergeleenthede vir leerders te skep. Hierdie ‘vlagskipprojek’ dien as ’n voorbeeld van hoe gemeenskapsamewerking werklik ’n verskil kan maak – nie net vir die skool nie, maar vir Colesberg as geheel.
“Die skool sien daarna uit om in 2026 die vennootskap verder te verdiep en nuwe geleenthede te skep vir samewerking, ontwikkeling en groei. Saam bou ons nie net aan ’n sterker skool nie, maar ook aan ’n trotse en lewenskragtige Colesberg,” sluit Hannerie af.
Jaco Spies, ATKV-streeksbestuurder van die Oos- en Noord-Kaapstreek, sê: “Die ATKV-tak Colesberg mag baie trots wees op die terugkeer van die Skaapfees. Húlle het dit laat realiseer.
“Delmarie het die feesbestuurspan baie goed gelei en elke uitdaging by die horings aangepak. Hier is maande se beplanning, organisering en harde werk vandag ’n pragtige voorbeeld van wat vermag kan word wanneer ’n gemeenskap saamwerk.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.