ATKV-tak Colesberg vier Nasionale Museumdag

Die ATKV-tak Colesberg het onlangs Nasionale Museumdag op ’n besondere manier gevier.
Die tak het die geleentheid gebruik om hul toekenning as ’n “tak met ’n hoë graad van funksionaliteit” by die onlangse ATKV-Kultuurkuier by die unieke privaat museum, Basie se Plekkie, te vier.
Volgens Delmari Pretorius, voorsitter van die ATKV-tak Colesberg, is Basie se Plekkie veel meer as net ’n versameling ou goed.
“Dit is my pa se plek,” verduidelik sy.
“Die idee het ’n paar jaar gelede ontstaan toe hy ná sy aftrede na Colesberg terugverhuis het. Hy het ’n verskriklike sentimentele kant aan hom en beywer hom vir die behoud en bewaring van ons geskiedenis.”
Basie, oorspronklik van Colesberg, maar wat jare by korrektiewe dienste in Goedemoed gewerk het, het ná sy terugkeer ’n motorhuis omgeskep in wat hy graag ’n “kosbare plekkie vol nostalgie” noem. Die privaat versameling bevat alles wat betrekking het op Colesberg se geskiedenis – van kameras tot ploegskare, van spoorweggeskiedenis tot items van die Brea-familie.
“Hy wil glad nie hê dat dit vir ons nageslag verlore moet gaan nie,” sê Delmari.
“Dit is vir my so kosbaar dat hy regtig uit sy pad gaan om hierdie dinge suksesvol te maak en alles te behou.”
Volgens Delmari was die besluit om Nasionale Museumdag by Basie se Plekkie te vier maklik en gepas. Basie het verlede jaar ’n spesiale Klop-op-die-skouer-toekenning van die ATKV ontvang vir die moeite wat hy doen om die Afrikaanse kultuur, erfenis en taal te bewaar.
“Hy is ook besig met die instandhouding van plaaslike monumente. Hy hou die terreine skoon, herstel heinings en het ’n groot liefde vir ons taal en kultuur,” vertel Delmari. “Dit was daarom baie gepas om dit by sy plekkie te hou waar ons taal en kultuur gevier word.”
Die dag se program het ’n gesellige samekoms van meer as 40 ATKV-lede en dorpsmense ingesluit wat ’n liefde vir Afrikaans deel. Basie het almal verwelkom, Delmari het ’n toespraak gelewer en die groep het saamgekuier oor koffie, tee en heerlike eetgoedjies wat deur die bestuur voorsien is.
“Die mense kon nie genoeg kry nie en wou nie huis toe gaan nie. Dit het in ’n gesellige dag ontaard,” glimlag Delmari. “Ons het besef daar is wel ’n behoefte in ons dorp vir so ’n samekoms waar ons ons liefde vir die taal kan vier.”
Die toekenning vir ’n tak met ’n hoë graad van funksionaliteit is nie vergeefs gemaak nie. Delmari beskryf ’n ongelooflike span vroue op haar bestuurspan wat aktief in die gemeenskap betrokke is.
“Ons het verlede jaar 12 uiters suksesvolle projekte voltooi,” vertel sy trots.
“Ons Winterwarm-projek het handskoene, mussies, sepies en pakkies aan byna 1 000 kinders by plaaslike skole verskaf. Ons het sop en broodjies aan straatkinders uitgedeel, monumentterreine skoon gehou, ouetehuise besoek en lees-vir-my-dae gehou.”
“Dit is ’n ongelooflike groot voorreg om ’n verskil in iemand se lewe in hierdie dorp te kan maak.”
Die tak het drie jaar lank deurlopend gewerk om hierdie mylpaal te bereik. Hul eerste projek was ’n melktertdag vir alle staatsdepartemente en essensiële werkers in die dorp.
“Ons het letterlik elke maand regdeur die jaar ’n projek gehad," verduidelik Delmari.
Sy spreek ook spesiale dank uit aan ATKV-streeksbestuurder Jaco Spies vir sy ondersteuning met elke projek.
Vir die ATKV-tak Colesberg beteken die toekenning ongelooflik baie.
“Ons voel so geëerd om hierdie toekenning te kon ontvang,” sê Delmari. “Dit gee mense nuwe moed om aan te gaan. Dit is amper asof die toekenning vir ons sê: ‘Dankie vir die verskil wat jy maak – al is dit net vir een klein rukkie van iemand se lewe.’”
Oor die belangrikheid van sulke vieringe soos Nasionale Museumdag in ’n klein dorp, is Delmari duidelik: “Dit is geweldig belangrik om veral in ’n klein dorp eensgesind met mekaar te wees en om gebind aan mekaar te wees in solidariteit rondom ons erfenis, taal en kultuur.”
Sy glo dit is hul plig om die waarde van hul erfenis aan hul kinders en kleinkinders oor te dra, net soos wat hul voorgeslag dit vir hulle nagelaat het.
“Elke dingetjie vertel ’n storie van vervloë dae. Mag ons Afrikaanse kultuur, taal en erfenis nooit verlore gaan nie.”
Die sukses van die dag het die tak gemotiveer om soortgelyke byeenkomste meer gereeld te hou, met die bonus dat dit ook nuwe lede vir die tak werf.