ATKV-tak Drostdy vier fees in Afrikaans!
Die strate van Swellendam was behoorlik opgetower in kleur en kreatiwiteit tydens die ATKV-tak Drostdy se Karnaval van Eenhonderd Woorde wat op 27 September 2025 tydens die Swellendam Alive-fees plaasgevind het.
Hierdie karnaval was die geesteskind van Moira Odendaal, beter bekend as “Miss Ruby”. Moira is die takvoorsitter van die ATKV-tak Drostdy wat vanjaar by die ATKV-Kultuurkuier met twee taktoekennings weggestap het.
“Ons taal se verjaarsdag het my geïnspireer om aan iets besonders te dink vir hierdie groot mylpaal – toe broei die idee vir die karnaval van 100 woorde uit,” sê Moira.
Die hele gemeenskap van Swellendam is genader om aan die geleentheid deel te neem. Elke deelnemer het ’n woord gekies en moes dit dan deur middel van hul uitrusting uitbeeld. Leerders van die V.R.T. Pitt Laerskool het saam met elke deelnemer met die woorde geloop.
Die uitvoerende burgemeester van Swellendam, Francois du Rand, het die voortou geneem en die prosessie het op die maat van “Liewe Lewe” deur Laurika Rauch en boeremusiek-vertolkings van “Loslappie” en “Al lê die berge nog so blou” die hoofstraat van Swellendam ingekleur.
“Ons dorp se mense het altyd met trots en passie hul stem laat hoor. Vandag doen ons dit in net 100 woorde, maar met duisende betekenisse. Die ATKV-optog herinner ons dat taal nie net ’n manier van praat is nie, maar ’n manier van leef,” het Francois trots gesê tydens sy toespraak na afloop van die karnaval.
“Pryse is aan die beste uitbeeldings toegeken, maar dit was baie moeilik om te kies, want elke deelnemer het eintlik ’n prys verdien. Almal het soveel moeite gedoen!” vertel Elize Fortuin, streeksbestuurder: takke.
Die drie deelnemers wat as wenners aangewys is, was die woorde “poenskop”, “galery” en “laslappie”.
Woorde soos “skitterend”, “vere”, “hemelbesem” en “sompompie” (vir sakrekenaar) het ook die koppe laat draai.
Moira sê die terugvoer van die gemeenskap na afloop van die dag was wonderlik.
“Almal wil dit weer doen. Mense en besighede het gevra hoe hulle volgende jaar kan help, asof hulle voel dit moet ’n jaarlikse instelling wees. Omdat die karnaval so geliefd was en goed ondersteun is, wil ons volgende jaar iets doen met idiome tydens die Swellendam Alive-fees.”
Hierdie dinamiese takvoorsitter se kop is egter klaar weer aan die broei met volgende projekplanne.
“Ons wil graag ’n stukkie grond by die munisipaliteit aanneem vir ’n opelug-teater waar ons poppekas kan hou om vir kinders speel-speel verskillende waardes te leer.”
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.