ATKV-tak Empangeni en NWO woeker saam om nood hok te slaan

Die Covid-19-pandemie is deur navorsers as die grootste maatskaplike en ekonomiese skok in ons leeftyd bestempel. Sedert die aanvang van die pandemie is ons lewens op verskeie maniere diep en onherroeplik verander.
Volgens Statistiek Suid-Afrika het driemiljoen mense in April 2020 hul werk verloor en 47% van die land se mense het honger gaan slaap. Die hoeveelheid mense wat vóór die landwye inperking nie genoeg geld gehad het om kos te koop nie, was ongeveer 21% van die landsbevolking.
Die Statistiek Suid-Afrika-verslag het aan die lig gebring dat vroue wat hoofbroodwinners is die meeste onder die inperking gely het. Gebaseer op die bewyse uit ander lande sal arm Suid-Afrikaners – waarvan meer as 50% onder die broodlyn leef – die ergste op fisieke, maatskaplike, geestes- en ekonomiese vlakke geraak word. Die werkloosheidsyfer het tot ongeveer 34% gestyg, en die vooruitsigte vir werkskepping blyk baie skraal te wees.
Dit is waarom die ATKV-tak Empangeni besluit het om ’n plaaslike welsynsorganisasie, Walk in Faith, te ondersteun deur komberse, klere en sop aan hulle te skenk, wat dan weer aan behoeftige gesinne in die Empangeni en Richardsbaai-omgewing uitgedeel is. Volgens Adell Botha, taksekretaresse, het behoeftige gesinne in die streek geweldig toegeneem. Fabriekreuse het hul personeel verminder, die plundering in KwaZulu-Natal verlede jaar het ’n rimpeleffek gehad, ’n groot aantal klein besighede het verliese gely en sommige moes hul deure finaal sluit. Baie persone wat by Walk in Faith aanklop, is mense wat na die streek verhuis het met beloftes van werk wat nooit gerealiseer het nie. “Die nood groei daagliks en behoeftige gesinne in die omgewing neem toe. In die wintermaande was daar ’n merkbare toename in gesinne wat nood gehad het,” sê Adell.
Dit was die eerste jaar dat die ATKV-tak Empangeni by Walk in Faith betrokke was. Die organisasie is ’n geregistreerde NWO en poog om soveel moontlik behoeftige gesinne in die omgewing te ondersteun. Hulle projekte wissel van die insameling en uitdeel van kos aan skoolkinders op ’n daaglikse basis, tot kospakkies vir gesinne, geskenke oor Kersfees, skryfbehoefteprojekte, asook ’n kombersprojek in die wintermaande. Adell sê, “Dit is ’n plesier om saam met die vrywilligers te werk. Dit is vir ons tak belangrik om ’n positiewe impak in ons eie omgewing te maak en voetspore van liefde en omgee te los. Ons loods elke jaar ’n boere-opskop, waartydens geld ingesamel word om spesifiek projekte soos dié te ondersteun.”