ATKV-tak en Martelize Brink bied ‘Die Gesprek’ aan
Die ATKV-tak Sommer Net Ons in Pacaltsdorp span saam met die George-museum om op 25 November Die Gesprek aan te bied.
Die tak wil die byeenkoms, waar die RSG-aanbieder Martelize Brink as gasspreker optree, gebruik om die kwessies wat mense met gestremdhede in die gesig staar, te bespreek.
Martelize het op die ouderdom van 13 jaar verlam geraak as gevolg van wat óf ’n virus, óf inflammasie was, wat haar ruggraat aangetas het. Sy is deesdae ’n bekende kampvegter vir die regte van mense met gestremdhede en neem jaarliks aan die ATKV-tak Sommer Net Ons se Outeniqua-rolstoelresies deel.
Taklid en medeorganiseerder van Die Gesprek, Ruzanne van Beulen, verduidelik hoe die idee vir hierdie inisiatief ontstaan het.
“Sommer Net Ons is ’n groep innoverende lede wat saam aan die verandering en verbetering van ons gemeenskap, dorp en die toekoms van Suid-Afrika bou,” sê Ruzanne.
“Ek self is op 40-jarige ouderdom met rumatoïde artritis gediagnoseer. Die emosionele, fisieke en geestelike impak van die siekte – van blakend gesond tot in ’n rolstoel – het my geïnspireer om ander mense te motiveer dat jy ondanks al die uitdagings nogsteeds voluit kan leef.
“Jou beweging raak stadiger en jou leefwyse word beïnvloed, maar jou geloof word sterker, want ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee.”
Ruzanne sê hul takinisiatiewe wat op mense met getremdhede gemik is, is nog redelik nuut.
“Daar is verskeie organisies op George wat hulle met die belange van mense met gestremdhede bemoei, maar voorheen het elkeen van hulle hulself op ’n eiland bevind en nie gesamentlik met een stem gepraat nie,” sê Ruzanne.
“Ons het verlede jaar in samewerking met al hierdie ander organisasies ons eerste funksie, Dit is ek, aangebied. Dit het die vorm van ’n modeparade aangeneem en ons het albei wêrelde – die een van gestremdes en nie-gestremdes – saam betrek.
“Ons wou die boodskap tuisbring dat al lyk jou liggaam en omstandighede anders as wat as ‘normaal’ beskou word, jy steeds jy is.
“Die Gesprek word in samewerking met die George-museum en met die ondersteuning van George se tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders aangebied in ’n poging om die verskillende individuele stemme bymekaar te bring.
“Dus, een stem in een gesprek, waarin ons die volgende vyf belangrike punte wil bespreek. Wat behels die munisipaliteit van George se beplanning ten opsigte van ondersteuning vir mense met gestremdhede? Wat is reeds gedoen, wat kan nog gedoen word, hoe lyk die toekoms ten opsigte van werksgeleenthede en hoe kan ons as George hande vat om die lewensgehalte en -toestande van mense met gestremdhede in ons plaaslike gemeenskap te verbeter?”
Intussen veg Ruzanne dapper voort teen haar artritis, wat ’n impak het op haar rugwerwels en senuweestelsel en dus osteoartritis in haar knieë veroorsaak.
“Vir nou, terwyl ek wag op ’n operasie (’n knievervanging in albei knieë), gebruik ek elke dag ’n rolstoel. Hoewel ek medikasie neem wat die siekte beheer, bied elke dag sy eie uitdagings,” sê Ruzanne.
“Die siekte het ook my hande beskadig, wat die volle gebruik daarvan beïnvloed. Maar ek het ’n goeie ondersteuningsnetwerk wat my lewe baie vergemaklik.”
Enigiemand is welkom om Die Gesprek op 25 November van 09:00 tot 13:00 in die George-museum by te woon. Ligte versnaperinge word bedien, dus is dit noodsaaklik om Ruzanne by 071 881 7755 te kontak en jou plek te bespreek.