ATKV-tak gee vir matriekmeisies ’n sprokiesaand
Die ATKV-tak Hande van Geloof in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte het gesorg dat ’n paar jong dames se droom van ’n onvergeetlike matriekafskeid bewaarheid word.
Die tak het met sy Prinsesprojek twee plaaslike matriekmeisies, wat nie rokke vir hulle matriekafskeid kon bekostig nie, met ’n droomaand bederf en hulle soos prinsesse laat voel.
Letecia Swartz, voorsitter van die ATKV-tak Hande van Geloof, verduidelik hoe dié wonderlike inisiatief ontstaan het.
“Ek het so ’n paar jaar gelede van die struikelblok in ons plaaslike gemeenskap bewus geraak. Baie van die jong meisies wat uiters goed in hul skoolwerk presteer se ouers kan nie noodwendig rokke en die gepaardgaande bykomstighede vir hul matriekafskeid bekostig nie,” sê Letecia.
“Dit het dus beteken dat baie van hulle nie in staat was om hul matriekafskeid by te woon nie en daarom het ons besluit om ’n poging aan te wend om elke jaar te sorg dat minstens een of twee meisies hul skool se funksie kan meemaak.”
Letecia sê die Kaapse Vlakte loop hewig deur onder bendegeweld en die probleme wat dit meebring, dus is hulle ATKV-tak se missie om ’n verskil in die lewens van die mense in hul plaaslike gemeenskap te maak.
“Dit is dan ook vandaar dat die naam van ons tak kom, Hande van Geloof,” sê Letecia.
“Ons het hande gevat met ’n ander organisasie in ons gebied, Time to Sparkle, ’n groep wat hom daarop toespits om meisies bymekaar te bring waar hulle hul harte kan oopmaak en gesels, leer hoe om hul selfbeeld te verbeter, met lewensvaardighede toegerus word en dies meer. Dit is waar ons vir Dilshaad Salie ontmoet het en haar as een van die ontvangers van vanjaar se Prinsesprojek gekies het.
“Dilshaad is 18 jaar oud en is ’n leerder aan die Hoërskool Modderdam. Sy word alleen deur haar pa grootgemaak nadat haar ma eenvoudig die huis verlaat het toe Dilshaad in graad 4 was. Sy het ’n jonger broer en drie jonger susters en moes sedertdien basies haar pa help om haar boetie en sussies groot te maak.
“Dilshaad se skool het hul matriekafskeid gekanselleer, maar van haar klasmaats se ouers het saamgespan en besluit hulle gaan self vir hul kinders ’n funksie reël. Sy sou dit nie kon bywoon nie aangesien haar pa dit nie sou kon bekostig nie.
“Ons het ingegryp deur vir Dilshaad ’n rok vir die matriekafskeid te borg, en Time to Sparkle het gesorg dat haar hare en naels spoggerig lyk. Haar vriendin se ma het gereël dat hulle ’n voertuig deel om saam na die matriekafskeid vervoer te word en ook verseker dat hulle ’n plek aan een van die tafels het.”
Die tweede meisie wat die ATKV-tak Hande van Geloof vir sy Prinsesprojek gekies het se naam is Loren Cornelius.
“Loren is ook 18 jaar oud en skryf tans haar finale matriekeksamen by die Bellville-Suid Sekondêre Skool,” sê Letecia.
“Sy het swanger geraak toe sy 15 was, geboorte geskenk aan ’n seuntjie en daarna weer na die skool teruggekeer om haar opvoeding te voltooi.
“Loren word ook deur ’n enkelouer grootgemaak en sy en haar driejarige seuntjie woon saam met haar pa en ouma in haar ouma se huis. Ek is deur ’n familielid aan haar voorgestel.
“My suster, Abigail Samuels, is ook ’n lid van ons tak en help altyd graag met enige van die projekte wat ons aanpak. Abigail is genader oor ’n rok vir Loren, maar toe nie een van die rokke wat ons het haar pas nie, het sy besluit om vir haar ’n rok te ontwerp. Abigail het ook Loren se grimering, hare, naels en dekor aan haar tafel gedoen.
“Een van Loren se tannies het vir haar ’n motor vir die matriekafskeid verskaf en ’n gawe lid van die gemeenskap het vir haar die tafel met eetgoed en lekkernye geborg.”
Die ATKV-tak Hande van Geloof het op 13 Desember ’n derde soortgelyke projek aangebied, maar in stede van ’n matriekafskeid behels dit ’n prom, soos dié funksies in die laerskole in die gebied bekendstaan.
“Chants Wynand is deel van Time to Sparkle en is die hoofmeisie by die Voorspoed Primêre Skool in Hanover Park,” sê Letecia.
“Haar pa is twee jaar gelede aan ’n hartaanval dood. Dié tragedie was te veel vir Chants se ma om te verwerk en sy het begin om drank te misbruik. Chants se ouer suster moes dus na haar en hulle ander sussie omsien todat ’n lid van die familie die drietjies ingeneem het.
“Chants se pa was haar held; die gemeenskap is altyd bereid om haar en haar sussies te help en dit is hoekom ons besluit het om haar droom om die prom by te woon, te bewaarheid. Ons het ook haar klere en bykomstighede vir die geleentheid verskaf.”
Letecia sê enigiemand wat meer van die ATKV-tak Hande van Geloof se projekte te wete wil kom, of ’n bydrae wil lewer, kan haar by 074 415 0266 kontak, of ’n e-pos na handevangeloof@gmail.com stuur.