ATKV-tak Gemeenskapsteater verseker dat Aardklop-produksie voortgaan

Die pandemie het die kunste ’n bittere hou toegedien, maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Toe die ATKV-tak Gemeenskapteater hoor dat ’n produksie in die knyp is, het hulle dadelik ingespring om te help.
“Die tak vervaardig jaarliks hul eie teaterproduksies en aangesien hulle die afgelope 18 maande self geen produksies op die planke kon bring nie, het hulle in 2020 begin om, soos hul kon, kunstenaars en tegnici te ondersteun,” sê Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder.
Toe die vervaardigers van ’n Klein Wonderwerk, met Chris van Niekerk in die hoofrol, die tak nader vir ’n borg, het die tak nie twee keer gedink om ’n helpende hand uit te reik nie.
“Daar is ’n hongerte vir goeie teater en kunstenaars kry baie swaar,” sê Gertjan.
Die produksie sou by die Vrystaatse Kunstefees gewys het, maar dit is egter uitgestel. Die produksie sal nou by Aardklop te sien wees.
“Deur hierdie borgskap het die tak ’n bydrae gelewer tot nog ’n produksie wat darem nie gekanselleer hoef te word nie.”
Naòmi Morgan, vervaardiger van ’n Klein Wonderwerk, sê hulle is baie dankbaar vir die ondersteuning.
“Die ATKV-borgskap is een van die talle wonderwerke van hierdie produksie. Die teater is swaar geslaan deur die pandemie, en die kunstenaars wat ons help om emosioneel gesond te bly, het vir maande van die verhoog af verdwyn.
“Veral vir Afrikaanse produksies, is die ondersteuning van kultuurorganisasies ʼn reddingsboei, maar ook veel meer: Dit gee alle Afrikaanse teatermakers die versekering dat hulle nie alleen is nie,” sê Naòmi.
Gertjan sê dat dit belangrik is vir die tak om betrokke te bly.
“Al is dit onmoontlik om nou enige produksie van hul eie te vervaardig, help elke klein bietjie om teater tog nog aan die lewe te hou.”