ATKV-tak help om vertroosting vir gebrokenes van hart te bring
Niks kan die leemte vul wat die dood van ’n geliefde laat nie, maar daar kan tog vertroosting kom.
En dit is juis waarom ’n groep mense besluit het om gehekelde trooskomberse aan hartgebroke mense te skenk wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het.
Die ATKV-tak Port Elizabeth is aan die voorpunt van hierdie projek en skenk gereeld wol of maak self trooskomberse.
“Ek het van dié projek gehoor en het self ’n geliefde verloor,” vertel Elmarie Fouche, sekretaresse van die ATKV-tak Port Elizabeth.
“Ek wou ook vertroosting vir ander bied en het die idee om dié projek te ondersteun aan hoofkantoor voorgelê en dit is goedgekeur.”
Die projek het gespruit uit die dood van die 25-jarige Anja Steyn weens ’n seldsame hartsiekte.
In 2014 het sy haar stryd verloor. Anja en haar ma, Katinka, het aan ’n hekelgroep op Facebook behoort.
‘n Dag ná haar dogter se dood het Katinka ’n foto van ’n pers hekelblokkie met ’n groot, rooi hart daarin op die groep se blad geplaas om almal van Anja se afsterwe te laat weet.
Pers was Anja se gunstelingkleur en die rooi hart het die hartoperasie simboliseer wat Anja moes ondergaan.
’n Ander lid van die Facebookgroep het voorgestel elke lid van die groep moet ’n blokkie hekel met iets pers daarin en vir Katinka stuur, sodat sy vir haar ‘n “trooskombers” aanmekaar kon werk.
Die reaksie was oorweldigend. Blokkies het van regoor die land en self oorsee ingestroom, elkeen met ’n boodskap van vertroosting.
Soveel blokkies is ingestuur dat Katinka-hulle benewens een groot kombers, nog ook vier kleiner komberse kon maak.
Kort daarna is die Facebookgroep Anja Blokkies Trooskomberse begin en daar is besluit om voort te gaan om blokkies te hekel vir die maak van trooskomberse vir almal wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het.
Sedertdien is honderde komberse gehekel. Die Facebookgroep het ook tot meer as 6 900 lede gegroei.
Die ATKV-tak Port Elizabeth het sedertdien 116 komberse geskenk.
“Elke trooskombers bevat die naam van die oorledene en word sover as moontlik in die oorledene se gunstelingkleur gemaak,” sê Esmarie.
“Die vroue wat die blokkies hekel, kies self die patrone, asook die aantal blokkies.
“Almal is vrywilligers en doen die werk met liefde en deernis.”