ATKV-tak help woef en kiets by DBV
Heelwat ATKV-takke regoor Suid-Afrika het vanjaar ter herdenking van Mandeladag projekte geloods om ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe te maak. Die ATKV-tak Kunstejêm, wat vanuit die ATKV-hoofkantoor in Randburg funksioneer, het besluit om hierdie jaar ’n verskil in ons vierpotige vriende se lewens te maak met ’n kosinsameling vir die plaaslike tak van die Dierebeskermingsvereniging.
Die kos wat ingesamel is, is op Vrydag 21 Julie, aan die Randburg-dierebeskermingsvereniging (DBV) oorhandig en taklede het ook die kans gekry om skouers te skuur met van die dierbare inwoners.
Lyndall Ngwenya, administratiewe bestuurder by die Randburg-DBV, het haar dank betuig vir die skenking en vertel dat dié DBV-tak op enige gegewe tyd herberg gee aan tussen 80 en 100 honde en 50 tot 70 katte.
Therien Taljaard, ’n lid van die ATKV-tak Kunstejêm wat saam besoek gaan aflê het toe die skenking afgelaai is, sê dat die groot behoefte van die diere ’n mens aan die hart gryp.
“Die ATKV-tak Kunstejêm is bly om op hierdie manier die las by die Randburg-DBV effens te kan verlig. Ons moedig die publiek aan om nie van ons dierevriende te vergeet nie en ook handjie by te sit om hierdie belangrike organisasie se werk te vergemaklik,” sê Therien.
As deel van die dierekosinsameling kon ATKV-personeel ook foto’s van hulself saam met hul troeteldiere vir ’n kompetisie inskryf. Die inskrywingsfooi hiervoor was dierekos. Marelise Scholtz, die talentvolle grafiese ontwerper in die ATKV se bemarking-en-kommunikasiedepartement, het dié kompetisie gewen en daarmee saam ’n heerlike geskenkpak losgeslaan.
Lyndall sê dat daar altyd ’n behoefte aan skenkings by die Randburg-DBV is en dat hul grootste behoefte op hierdie stadium skenkings van dierekos (nat en droog) is, terwyl Jan Publiek ook gerus komberse, katsand, dierespeelgoed, ontwurmingsprodukte en vlooibeheerprodukte (beskikbaar by veeartse of ander winkels) kan skenk. Om te verseker dat die kantoorbedrywighede by die DBV klopdisselboom verloop, is skenkings van toiletpapier, A4- wit papier vir drukwerk en swart rommelsakke ook baie welkom.
Skenkings kan by die Randburg-DBV afgelaai word – die adres is Northumberlandlaan 229 in North Riding. Besoek ook gerus die Randburg-DBV se webwerf en Facebook-blad om op die hoogte te bly van die behoeftes van dié niewinsgewende organisasie.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.