ATKV-tak Kunstejêm reik uit met skenking
Vir baie mense is die winter ’n tyd wat sonder skroom tussen vel en been inkruip, maar wanneer jy weerloos is en min besit, kan dié tyd van die jaar jou hopeloos laat. Die ATKV-tak Kunstejêm, wat vanuit die ATKV-hoofkantoor in Randburg funksioneer, besef hoe swaar weerlose gemeenskappe veral in die winter kry en het ’n hand tydens die koudste tyd van die jaar uitgereik na die gemeenskap wat in die Sonop-karavaanpark in Benoni woon.
As deel van hul Woeker dié Winter-projek het die tak blikkieskos en sop ingesamel, asook linne en komberse wat die skenkers nie meer gebruik nie. Wol is ook ingesamel en tesame met Dynamic Women for Children is daar truie vir die kinders van die karavaanpark gebrei.
“Ons wil graag ’n verskil in mense se lewens maak deur die koue dae draagliker te maak,” sê Samantha Nel, takvoorsitter. Sonop-karavaanpark huisves lae-inkomste-gesinne van wie baie se enigste inkomste ’n staatstoelae is. Daar is 250 mense, van wie 100 kinders is. Soms woon daar twee tot drie gesinne op een karavaanstaanplek om geld te spaar. “Hierdie mense kort broodnodige alledaagse items, soos kos, klere, skryfbehoeftes, skoonmaakmiddels en ander huishoudelike items. Dit is hoekom ons graag wou help,” sê Samantha.
Die ATKV-tak Kunstejêm staan ’n paar liefdadigheidsorganisasies by. “Ons probeer dit wyd hou – verskillende plekke en verskeie organisasies – om soveel as moontlik mense te kan help,” sê Samantha. “Ons wil graag mense wat weerloos is en sukkel, help. Ons tak hou altyd ’n oor op die grond om te sien waar ons ’n verskil kan maak met basiese dinge wat mense nodig het in hierdie moeilike tye. Ons probeer om uit te reik na verskillende dele van die gemeenskap, ouer mense, gesinne wat sukkel en ook diere.”
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.