ATKV-tak kweek aptyt vir woorde met leeskompetisie

Lees is ’n vaardigheid wat maklik as vanselfsprekend aanvaar word, maar dink net: vandat jy jou oë in die oggend oopmaak, begin jy lees. Jy lees die boodskap wat jou ma laataand gestuur het en jy nou eers kon oopmaak. Jy lees die etiket op jou ontbytgraanboks. Die kitsbank se skerm is vol nuwe boodskappe oor persoonlike lenings óf oor maniere hoe skelms jou geld wil steel. Kan ons regtig bekostig om nié lees as kernvaardigheid onder skoolkinders aan te moedig en te help bou nie? Dit is in talle studies bewys dat kinders wat sukkel om te lees ook kinders is wat sukkel om te leer.
Lede van die ATKV-tak Rhenosterberg in Middelburg in die Oos-Kaap is maar alte bewus van hoe belangrik lees en lees met begrip is. Om dié rede het hulle onlangs ’n leeskompetisie vir laerskoolleerders geloods. Die doel van dié kompetisie was om weer ’n leeslus onder leerders te kweek en ook op hierdie wyse hul leesvermoëns te verbeter. Elize du Toit, projekleier en afgetrede Afrikaansonderwyseres vir seniorfaseleerders, sê sy het agtergekom daar is ’n reuse gebrek aan leesvaardighede en lees met begrip onder leerders.
“My gedagte was om reeds by die laerskoolleerders ’n liefde vir lees te begin kweek, wat hopelik sal groei tot hulle sommer baie oud is,” sê sy.
Elize het kers opgesteek by die laerskooljuffrouens en sommer gou het die projek vlerke gekry. Vir die die graad 3 tot graad 5-leerders was daar ’n voorbereide- en onvoorbereide leeskompetisie. Vyf leerders in elke graad uit onderskeidelik die Laerskool Karel Theron, die Van der Merwe Gedenkskool en die Ellen Olivier Laerskool is geïdentifiseer en moes tydens ’n spesiale geleentheid en voor drie beoordelaars lees. Hierna is wenners aangewys. Die graad 6- en graad 7-leerders van die drie laerskole kon ook deelneem aan ’n opstelkompetisie.
Buiten dié twee projekte om lees aan te moedig, het die Laerskool Karel Theron ook ’n idioomdag gehad, waartydens die kinders elkeen soos ’n idioom moes aantrek. Plakkate met die verskillende idiome is ook oral op die mure geplak.
Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.


