ATKV-tak Langsous vereer Louis Oosthuizen met Afrikoon

Die gholfspeler Louis Oosthuizen is welbekend en is tans nommer 8 op die wêreldranglys, maar nie almal weet van die weldadige werk wat hy en sy stigting veral in die Mosselbaai-omgewing doen nie.
Die sportman is onlangs vir dié werk wat hy deur sy welwillendheidstigting Foundation57 verrig met ’n Afrikoon-toekenning deur die ATKV-tak Langsous vereer.
Louis is op 20 September met die toekenning vereer, maar hy was ongelukkig in die buiteland en kon nie self die toekenning in ontvangs neem nie.
Die ATKV-tak oorhandig elke jaar in September met Erfenismaand ’n toekenning aan ’n welverdiende persoon.
“Ons gee erkenning aan persone wat diep spore in die gemeenskap getrap het en Louis is een van hulle. Hy is ’n nasionale skat,” sê Claire du Plessis, takvoorsitter.
Die Foundation57-stigting is betrokke by: Die gholfakademie Academy57 bied gratis afrigting aan kinders. Leolan Academy ondersteun kinders met spesiale leerbehoeftes soos outisme en Downsindroom. Die stigting het ook ’n voedingskema, iPapa57, wat by 16 vroeëkinderontwikkelingsentrums in Mosselbaai werksaam is en Kids With Cancer bied finansiële hulp aan gesinne van kinders wat met kanker gediagnoseer is.
Petrie Cronjé, hoof van Foundation57, het die toekenning in ontvangs geneem en ’n brief van Louis voorgelees.
“Dit is met dank en nederigheid dat ek die ATKV-Afrikoontoekenning aanvaar. Dit is my passie om deur middel van my stigting in Mosselbaai se gemeenskappe betrokke te kan wees.”
Volgens Petrie moet daar samewerking wees om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
“Die gemeenskap moet uiteindelik die wenners wees en ons kan dit net bereik deur saam te werk.”
Hy sê die stigting en die ATKV het besluit om verdere samewerking te ondersoek.
“Een van die projekte wat ondersoek word, is om gemeenskaplike groentetuine te begin. Die meeste van die groentetuine sal aangelê word by die informele skooltjies wat die stigting ondersteun. Ons kan slegs ’n verskil maak as ons hande vat.”