Skip to main content

ATKV-tak Langsous wil ook in die individu belê

Vanjaar is die ATKV se bemarkingslagspreuk “Belê in jouself, belê in jou toekoms, #weesdieverskil" en dit is juis wat die ATKV-tak Langsous in Mosselbaai met hulle nuwe entrepreneursprojek wil doen.

“Ons wil vir mense die nodige gereedskap en vaardighede gee om selfonderhoudend te wees,” sê Claire du Plessis, takvoorsitter.

Volgens haar wil hulle met dié projek, wat nog ’n naam moet kry, mense inspireer en vir hulle die geleentheid bied om hulle eie geld te maak.

“Die projek gaan nie net vir mense wys hoe om soos ’n entrepreneur te dink nie, maar gaan ook praktiese raad bied vir hoe om slim met jou geld te werk.

“Hoe sorg jy vir ’n gesin van vier as jy net R100 het? Dit is een van die kwessies wat ons gaan aanspreek. Ons gaan ook lekker praktiese resepte deel vir as jy ’n klein begroting het en raad oor hoe jy steeds gesond kan eet al het jy nie baie geld nie.”

Volgens Claire is die doel van die projek om vir mense in die gemeenskap te leer om selfonderhoudend te wees.

“Ons gaan landbou-advies gee en mense leer hoe om hulle eie kos te groei en hoe om ’n wins uit dit wat jy gekweek het te genereer.

“Ons wil mense kan opvoed en hulle leer hoe om ’n inkomste uit die bronne wat hulle tot hulle beskikking het te genereer.”

 Benewens dié projek gaan die tak ook vanjaar op die jeug fokus.

“Ons het ’n mentorskapprogram waar ons kinders in die gemeenskap wat sukkel om te lees wil mentor en deur die loop van die akademiese jaar wil bystaan.

“Daar is baie kinders in ons gemeenskap wat nie behoorlik kan lees nie en ons wil vir hulle die nodige hulp gee wat hulle verdien. Baie van die kinders het ’n lae selfbeeld omdat hulle uitdagings met leer en lees ervaar.”

Die tak wil ook die rol van brugbouers inneem en wil op Afrikadag (25 Mei) verskeie kultuurgroepe byeenbring.

“Ons lewe verby mekaar en verstaan nie mekaar se kulture en agtergronde nie. Ons wil verskeie leiers en verteenwoordigers uit verskillende kultuurgroepe op Afrikadag betrek om hulle griewe en uitdagings te hoor en hoe ons verdraagsaamheid onder mekaar kan kweek.

“As ’n tak wil ons nie net in die individu belê nie, maar ons wil ook in die gemeenskap belê.”