ATKV-tak Noupoort reik uit na ouetehuis

Die ATKV-tak Noupoort is dalk klein, maar doen groot werk om ’n verskil in hulle gemeenskap en selfs in naburige dorpe te maak.
“Daar is in ons dorp en selfs in naburige dorpe ’n groot nood,” sê Theo Kleinhans, takvoorsitter.
Dié tak in die Karoo bestaan maar uit ses taklede, maar hulle probeer jaarliks soveel as moontlik projekte aanpak om verligting te bring en het onlangs vir die bejaardes op Middelburg leesstof geskenk.
“Huis Karee gaan deur ’n verskriklike moeilike tyd. Hulle sukkel finansieel en met die inperking en die pandemie is die bejaardes se subsidies halveer,” sê Sandra Lessing, van die ATKV-tak Noupoort.
Die lede het onder mekaar boeke en tydskrifte vir die ouetehuis ingesamel.
“Ons wou net ’n bietjie verligting bring vir hulle en ’n mens kan met ’n boek of goeie leesstof ’n bietjie ontsnap van jou omstandighede.”
Volgens Sandra het die personeellede weens die finansiële nood ook nie verlede jaar bonus ontvang nie.
“Ons het ook boeke en tydskrifte vir die personeel gevat.”
Theo sê hulle beplan om ook vanjaar weer op die jeug te fokus en gaan weer hulle jaarlikse stapdag hou.
“Dit is elke jaar ’n reuse-sukses en baie kinders woon dit by. Laas jaar was daar sowat 50 kinders. Ons gee vir hulle op die dag iets om te eet en te drink, want daar is ’n groot nood onder die jeug in ons gemeenskap.”
Hulle beplan ook om saam met ATKV-tak Colesberg ’n vertoning in Colesberg se kerksaal aan te bied.
“Ons probeer om soveel as moontlik hande te vat met ander dorpe en takke. Ons is dalk klein, maar ons probeer steeds ’n verskil maak.”